Die Afrikaner 3 Februarie 2023
Ek gaan in hierdie uitgawe voort oor wat mnr. Jaap Marais in sy voordrag: “Die uitdaging aan die Afrikanervolk en die rol van die HNP as die verteenwoordiger van Afrikanernasionalisme” gesê het. In die voordrag wys hy hoe ons ons vryheid verloor het en wat ons moet doen om die geleenthede wat aan ons gebied word, te benut. Ons gaan verder waar ons die vorige keer opgehou het. Hy noem dat die Afrikanernasionaliste in verset moet gaan met ‘n keuse tussen enkele moontlike wyses van optrede:
- Een is die geweldsopsie.
- Twee is as politieke party
- binne die bestel, of
- daarbuite.
Hy gaan verder dat die geweldsopsie ‘n hoë potensiaal gehad het voor 27 April 1994.
“Die dreigement van geweld was die enigste hefboom om ‘n volkstaat op te eis. Die NP en ANCSAKP, hulle Britse en Amerikaanse borge, moes ten alle koste verhoed dat geweld die vredesonderhandeling in die war stuur. Toe Constand Viljoen in Julie 1993 in die geheim met Thabo Mbeki ooreengekom het om aan die verkiesing deel te neem en af te sien van geweld in ruil vir “‘n semi-outonome Afrikanertuisland” het hy egter alle bedingingsvermoë prysgegee en tegelyk die geweldsopsie gekelder.
In die huidige situasie is die Afrikanervolk nie in ‘n gemoedstoestand vir geweld nie, en daar sal in die buiteland ook geen simpatie met ‘n gewelddadige verset wees nie. Dit beteken egter nie dat geweld in die “Nuwe” Suid-Afrika uitgeskakel is nie. Die huidige misdaadepidemie is in werklikheid ‘n oorlog van lae intensiteit.”
Hier wil ek graag byvoeg dat toe mnr. Marais van die misdaad gepraat het, was daar nog nie sulke ongekende misdaad wat almal bedreig en geraak het nie. Kyk maar net na die nuus en sien daar is nie ‘n misdaad meer wat nie genoem word nie. Mnr. Marais gaan verder: “En die spanning tussen swart volke onderling en tussen Blanke en nie-Blanke rasse is geensins besweer deur praatjies oor ‘n “miracle” en ‘n “reënboognasie” nie. Die potensiaal van geweld is ingebou in die hele gekunstelde konstitusionele bestel.” As ons kyk na die chaos verlede jaar toe Johannesburg en Durban en omgewing deur terroriste besteel en afgebrand is, kan mens sien hoe vêrsiende mnr. Marais was. Hy gaan verder en sê: “dat die bestel inmekaar sal stort, is een van die sekerhede van die toekoms. Daar is na tallose eksperimente nog nie ‘n enkele suksesvolle voorbeeld van ‘n parlementêre demokrasie waarin verskillende rasse, gelowe, kulture en volke vreedsaam saamgebind is nie.” As ons nou na die situasie in Suid-Afrika kyk, sien ons dat ons al nader aan ‘n ineenstorting beweeg. Die administrasie het verval, Eskom is op die punt om totaal op te hou om krag te verskaf. Ons moet ons gereed maak vir wanneer die ineenstorting plaasvind. Mnr. Marais voorspel dat wanneer so ‘n bestel ineen stort, gaan dit gepaard met geweld. “Dáármee moet baie ernstig rekening gehou en voorsorg teen getref word. Maar die gerigtheid van partypolitieke verset kan nie op gewapende verset wees nie. Daar is ander voorwaardes wat nagekom moet word in antisipasie van so ‘n ineenstorting en gevolglike geweld.” Mnr. Marais gaan voort: “Dit bring die bespreking natuurlikerwys by die alternatief, naamlik om as politieke party ‘n versetaksie te voer. As ‘n party in die konstitusionele bestel ingaan, is hy dadelik gekompromitteer. Voor April 1994 het die KP-leiers byvoorbeeld gesê hulle sal nie die ANCregering erken nie, en hulle sou nie aan die Aprilverkiesing deelgeneem het nie. Maar KP-lede is vrygelaat om deel te neem, en na die verkiesing het die KP die regering erken en met hom in gesprek getree. Daarna was die KP so gekompromitteerd dat hy in 1995 en 1996 aan die plaaslike verkiesings deelgeneem het. “Die Vryheidsfront het deur sy deelname aan die bestel so daarin opgegaan dat Mandela telkens hoë lof gehad het vir Constand Viljoen, en ook twee VF-lede aangestel het as ANC-SAKP-ambassadeurs in die buiteland. Geen effektiewe verset kan vanuit so ‘n morele en politieke verstriktheid gevoer word nie.”
Volgende keer gaan ons verder kyk na verset van
buite die bestel.
H F van der Schyff