H van der Schyff: Die Afrikaner 17 Februarie 2023
Soos ek in my vorige stuk belowe het, gaan ek vandag voort met die bespreking van die stuk uit mnr. Jaap Marais se voordrag oor die uitdaging aan die Afrikanervolk en die rol van die HNP daarin.
Vandag haal ons stukke uit oor ons verset van buite die bestel.
Mnr. Marais sê in sy kommentaar dat “verset van buite die bestel is nie net in ooreenstemming met die Afrikaners se mees suksesvolle optredes in die geskiedenis nie, maar is ook die logiese en natuurlike uitvloeisel van nasionalistiese inspirasie. “Hierdie stelling open die mees wesenlike aspek van die hele saak. Eerstens, die Afrikanervolk het telkens hoogtepunte bereik deur ’n stryd van buite — van die Groot Trek, déúr die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë, die stigting van die Nasionale Party in 1914, die handhawing van die Nasionale Party in 1934, buite die samesmelting, die Republiekwording in 1961, en daarmee saam voortgang buite die Statebond. Die stryd van buite was telkens ’n kragontplooiing.
“Hierdie feite hang saam met die verskynsel dat nasionalisme ’n mag is wat ’n volk in staat stel om groot uitdagings suksesvol te aanvaar en te verwerk.
“Nasionalisme is ’n sluimerende mag wanneer daar nie ’n onmiddellike bedreiging of ’n onderdrukkende mag oor ’n volk is nie.
“Dit is in verset dat nasionalisme ’n dinamiese mag is. Verset is reaksie op ’n daad of ’n stelsel wat ’n volk se bestaan bedreig of sy lewensmoontlikheid verminder. Reaksie is in die hele natuur die geprogrammeerde afweer waardeur elke organisme sy bestaan beskerm teen ’n potensiële bedreiger, en waardeur ’n organisme hom verset indien hy van sy vryheid beroof word.
“Die Afrikanernasionalisme is sedert 1966 verwar omdat Afrikaners nog aan bewind was en vertroude instellings soos die Nasionale Party en die NG Kerk aanvaar is as werktuie waardeur Afrikanerbelange beskerm word, terwyl die teendeel waar was.
“Hierby is verdere verwarring geskep as sou die HNP nie met Afrikanerbelange te vertrou sou wees nie en daarom vanuit die Nasionale Party beveg moes word. Dit is ’n verlenging gegee toe die KP in 1982 gestig is om die opgang van die HNP te stuit en ’n syspoor aan te lê waarop Afrikaners kon stoom afblaas. Daardeur is aan volksverdeeldheid ’n verdere stoot gegee en is grootliks tot die verwarring toegevoeg.”
Hier wil ek graag aan die destydse ondersteuners van die KP vra hoeveel van hulle steun vandag die bont VF Plus? Dit is nie ’n party wat meer na enige vryheid vir Afrikaners streef nie. Het die ou KP-ondersteuners al agtergekom dat hulle bygedra het tot die oorgawe van De Klerk?
Mnr. Marais gaan verder: “Hieruit is dit duidelik dat naas die stryd waarin Afrikaners teen die ANC-SAKP-regime betrokke is, daar tegelyk ’n tussenfase is waarin Afrikaners teen mekaar in stryd is— soos die bittereinders teen die “National Scouts” en verraaiers in die Engelse Oorlog; soos genl. Hertzog teen genl. Louis Botha; soos dr. Malan teen genl. Smuts; soos dr. Albert Hertzog teen John Vorster.
“Tans is die politieke toestand veelal soos in die veertigerjare toe die destydse Herenigde Nasionale Party in ’n stryd teen die Britsgesinde Smutsregering was, maar tegelyk ook moes stry teen die Nuwe Orde, die Ossewa-Brandwag, die Afrikanerparty, die Gryshemde en nog ander kleiner groepe.”
Vandag sit ons met ’n soortgelyke probleem waar verskeie groepe gestig word om die “volk te red”, maar dit is onbekende manne of manne waaroor die vraag of hul ernstig is, hang. Heelwat van hierdie groepe vereenselwig hulle met die politieke stelsel in die land en werf ondersteuners om vir hulle in die volgende algemene verkiesing te stem. Sou van hulle weer setels wen soos die bont VF Plus, bly die vraag wat hulle met hul min steun teen die groot swart steun gaan regkry?
Mnr. Marais sê verder, “Soos destyds, is dit tans ook ’n stryd om die siel van die Afrikanervolk. Uiteraard kan die Afrikanervolk net ’n mag wees as hy aangevuur word deur nasionalisme. Dit maak die bestaan van die HNP so veelbetekenend. Want dié party is die enigste Afrikaner-organisasie wat die ware verteenwoordigers van Afrikanernasionalisme kan wees in sy volle dimensie van patriotisme, rasgebondenheid, kulturele verankering en historiese gerigtheid.”
Volgende keer gaan ons voort.