Die Redakteur. Die Afrikaner 17 Maart 2023
Enkele uitgawes gelede het ons in hierdie kolom probeer wys dat ‘n sirkus meer kuns is as plaaslike regering, en dat ‘n sirkus plesier verskaf, terwyl plaaslike owerhede in Suid-Afrika alles behalwe lagwekkend is.
Die naaste wat dit aan lag kan kom, is dat dit belaglik is. Die belaglikheid, wat eintlik meer skandalig is, het die afgelope weke uitgespeel in die bestuur van Tshwane. Ons gebruik doelbewus nie die naam Pretoria nie, want Pretoria was as ou hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek, en later as hoofstad van die Republiek van Suid-Afrika, wat in 1961 tot stand gekom het, ‘n plek van ontwikkeling, beskawing en goeie bestuur.
Wat ons nou by Tshwane sien gebeur, is in absolute kontras met dit wat gebeur het in ongeveer ‘n eeu en ‘n half Pretoria. Die ironie is nogal dat in die eerste paar jaar van ANC alleenheerskappy, het dit amper beter gelyk as nou. Ja, daar was geen dienslewering nie, daar was korrupsie, diefstal, kader-ontplooiing en al daardie normale ANC-euwels. Maar sedert die laaste plaaslike regeringsverkiesings lyk dit of daar behoorlik ‘n kat in die hoenderhok losgelaat is. Soveel van instabiliteit en politiekery ter wille van persoonlike gewin en posisies, is nog nie beleef nie. Nie eens enkele jare gelede in Beaufort-Wes waar dit ook redelik rof daaraan toe gegaan het.
Die hoofstad van die land het ‘n kookpot van knoeiery geword waarvan feitlik geen betrokke politieke party onaangetas gelaat is nie. Die hooggeroemde koalisie-politiek, wat kwansuis die antwoord sal wees vir die toekoms, ook op nasionale vlak, het misluk. Nie omdat koalisies misluk nie, want daarvan is Europa ‘n goeie voorbeeld. Talle lande het koalisieregerings wat, alhoewel dit die ideaal is nie, tog werk. Soms, soos dit al in België gebeur het, neem dit langer as ‘n jaar om ‘n federale regering saamgestel te kry omdat die koalisie onderhandelinge so moeilik is. Tog gebeur dit. Wat België se bykomende voordeel is, dat sy sterkste deelstaat, Vlaandere, die ekonomiese hartklop van dié land, met sy eie regering kon aangaan en wys die federale regering is nie nodig nie.
Hier is die situasie omgekeerd. As die sentrale regering nie funksioneer nie, is daar geen streeksregering wat die wiele aan die rol kan hou nie. Die sogenaamde provinsiale “regerings”, met “premiers” en al, is so deel van die sentrale korruptiewe denke, dat hulle eenvoudig daarin meegesleur word. Dieselfde speel homself nou in die besonder uit op plaaslike regeringsvlak.
Koalisievennote het in Tshwane gewys hoe onbetroubaar hulle was. Dit kon eintlik ook nie anders nie. Die meerderheid partye het iewers bande met die ANC. Cope, wat nou die bedrieënde burgemeester vir etlike dae gehad het (eers is hy verkies, toe afgedank omdat hy nie kon bewys dat hy gerehabiliteer het nadat hy insolvent verklaar is nie, toe weer aangestel word toe hy wel ‘n “bewys” van rehabilitasie voorgelê het, en toe die hasepad sommer self gekies het toe dit blyk dat daardie “bewys” van rehabilitasie in rekordtyd en absoluut amateuragtig vervals is), is ‘n wegbreekgroep van die ANC. Terror Lekota, hulle inmiddels gediskrediteerde leier, was lank die ANC se voorsitter.
Julius Malema was ANC-jeugleier, totdat hy ook om persoonlike redes kwaad geword het vir die ANC en sy eie party gestig het. Sy pad na die hoofleierskap in die ANC het vir hom te lank gevat, toe stig hy ‘n kortpad, met dieselfde beginsels as die ANC. Cope en EFF se beleid het nêrens werklik van die ANC-beleid verskil nie, dalk net in optrede. Maar net soos ons nooit die beleid van ware volksnasionalisme kan prysgee nie, kon geen van die wegbreekgroepe hulle losmaak van die ANC se Freedom Charter nie, en daarom is politieke rondspringery vir hulle so maklik. Die een oomblik is Cope en die EFF in die DA se koalisie bedjie, en die volgende keer kruip hulle ewe maklik onder die politieke lakens van die ANC in.
Politieke opportunisme van die DA en die VF Plus om te dink dit is betroubare koalisievennote, het hulle nou duur te staan gekom. In wese is selfs die DA nie te ver van die ANC af nie, met ondersteuning van ANC-beleid van transformasie, swart ekonomiese bevoordeling, “affirmative action” grondhervorming en so meer. Daarom dat daar al bespiegel word van selfs ‘n ANC-DA-koalisie na 2024 “om die EFF uit te hou”.
Kan hierdie stelsel werk? Nee. Dertig jaar ondervinding het dit al gewys, en dit word dag vir dag al hoe duideliker. Kan ons hierdie bedeling maak werk? Nee, dis onmoontlik. Wil ons daarom probeer om die ding te laat werk? Glad nie, want dit is tydverkwistend en selfs vernederend.
Selfs die akademikus, prof. André Duvenhage, sê al dat daar iets anders moet kom. Hy praat van ’n nuwe ooreenkoms wat beding moet word. Ons stem nie noodwendig met die “bedinging” saam nie, maar dit is interessant om te let op sy woordkeuse: hy sê nie dat die stembus iets kan verander nie. Hy praat in wese van ‘n nuwe Kodesa – ‘n proses buite ‘n stembus om.
Daarom bly ons knus buite daardie belaglike bestel. Daar gaan een of ander tyd iets moet gebeur wat dinge vir ons volk beter kan maak. Ons moet net aanhou – aanhou werk, aanhou bewys maak van volksnasionalisme en – trots, en aanhou bid. Dit gaan werk, nie die bedeling nie.
Die Afrikaner 17 Maart 2023