Redakteur: Die Afrikaner 21 April 2023

Tydens Cyril Ramaphosa se onlangse beleggingskonferensie het hy daarmee gespog dat daar sedert 2018 sowat R1 500 miljard aan beleggings beloof is.

Natuurlik het die hoofstroommedia dit aangegryp as ‘n teken van hoe goed dit gaan, en as dit dalk nou nog nie so goed gaan nie, is voorspoed op pad.

Die gemiddelde inwoner van die land kan daar nie veel van sien nie. Daardie beleggings wat kwansuis belowe is, het nie uitgekom by die herstel van die vervalle spoorweë nie. Dit is ook nie aangewend om die slaggat besaaide paaie weer rybaar te maak nie. Dalk is ‘n deel daarvan in die reddingsboei vir SAL, maar steeds kan dié maatskappy nie werklik sy vlerke in die lug kry nie. Oud-minister Derek Hanekom moet dit nou probeer, maar hy moet ook lewe, dus sal daar eers maandeliks na sy bankrekening gekyk moet word.

Geen beleggingsgeld is aangewend vir die bou van nuwe kragstasies of sogenaamde groen energie opwekkingseenhede nie. Die land gly steeds verder in beurtkrag in omdat daar geen krag is nie.

Trouens, die hele beurtkrag bly ‘n raaisel. Geen beleggingsgeld is gebruik om nuwe fabrieke en aanlegte te bou nie. Inteendeel, fabrieke maak toe, want vakbonde, die staat se minimumlone, beurtkrag en ander beleidsonsekerhede maak dit vir hulle onmoontlik om te produseer. Dus gebruik hulle ook minder elektrisiteit, maar steeds vermeerder die beurtkrag!

As die R1 500 miljard sedert 2018 opgedeel word, is dit slegs sowat R300 miljard per jaar, wat baie klink maar in ‘n totale staatsbegroting maar wegraak.

Die vraag is dus: Hoeveel van daardie beloftes het gerealiseer, en hoeveel van hulle is eenvoudig herroep toe die mooi praatjies by die beleggingskonferensie opgedroog het, en die dag na die konferensie die harde werklikheid van ‘n ANC-beheerde staat weer voelbaar geword het?

Daar moet onthou word dat beleggers opbrengste verwag. Beleggers het geld, want hulle is suksesvolle sakelui wat hard gewerk het vir hulle geld. Hulle hou nie daarvan om heuning om die mond gesmeer te word by ‘n konferensie, maar daarna hard geslaan word deur die land se sosialistiese en rasbehepte wetgewing en regulasies nie. Hulle gaan hul nie laat voorskryf oor hoe hulle hul besigheid moet doen nie.

‘n Baie mooi voorbeeld hiervan is die geval van Elon Musk, een van die rykste sakelui ter wêreld met sy vingers in talle sake-ondernemings regoor die wêreld. Terwyl Ramaphosa sedig verklaar dat Suid-Afrika aan die voorpunt van die digitale ekonomie in Afrika moet wees, kry Musk ‘n skop in die tande van Ramaphosa se minister van kommunikasie, Mondli Gungubele. Dié verklaar naamlik openlik in die parlement dat as Musk sy Starlink-maatskappy na Suid-Afrika wil bring om internetdienste te verskaf, hy eers aan die Suid-Afrikaanse vereistes van Swart Ekonomiese Bemagtiging moet voldoen. Hoe rym die twee met mekaar?

Waarskynlik stel Musk in elk geval nie in Suid-Afrika belang nie, want internetdienste kan nie verskaf word met slegs sowat 50% beskikbare elektrisiteit per dag nie. Sou hy ten spyte daarvan tog oorweging aan Suid-Afrika skenk, sal hierdie vereiste hom beslis laat afskrik, want dan word hy gedwing om mense aan te stel van dieselfde kaliber wat Eskom, SAL, Poskantoor, spoorweë, die staatsdiens, Denel en die ander ongenoemdes in die grond in bestuur het. Musk gaan nie sy besigheid in Amerika of die wêreld opbou, net om dit te laat vernietig deur die ANC se kaders, wat oral in die SEB-netwerk ontplooi word, met rampspoedige gevolge. Musk is ‘n tipiese voorbeeld, maar dieselfde geld vir ander moontlike beleggers.

Intussen is die beleggersvertroue besig om stil-stil te kwyn. Daardie syfers praat harder as Ramaphosa se geteem by die beleggingskonferensie. Beleggings behoort tog werkskeppend te wees. In werklikheid styg werkloosheid. Werkskepping behoort ten minste 20% te wees om ‘n ekonomie te laat groei, sê die bekende ekonoom en sakeman, prof. Raymond Parsons. Dit staan tans op ‘n skamele 14%, wat selfs 2% laer is as toe Ramaphosa die bewind oorgeneem het. Beleggers maak geen hoogdrawende politieke uitsprake nie. Hulle praat saggies deur hulle geld, en dit is duidelik dat selfs die gewaande ridder op die wit perd, Ramaphosa, geen vertroue inboesem nie.

Helaas is ons as volk nou verweef met die Suid-Afrikaanse ekonomie. Tog is daar geleenthede waar ons ook stilweg met ons geld kan praat, deur dit in ons eie volkseie ekonomie te ploeg, mekaar te ondersteun, eie alternatiewe te skep en so ons geld eers onder ons te laat sirkuleer. Daarin kan by die Jode geleer word, wat mekaar sodanig ondersteun, dat geraam word dat die geld wat hulle onder mekaar spandeer, ongeveer 19 keer sirkuleer voordat dit uit hulle geslote ekonomie na die breër ekonomie gaan. Dit maak so ‘n geslote ekonomie enorm sterk. Die Afrikaner behoort dieselfde te doen.

Laat Ramaphosa maar sy leuens by die beleggingskonferensies vertel. Ons weet wat die waarheid is, maar meer nog wat vir ons die alternatief kan wees. Ons moet, soos ons voorouers, weer bou aan suksesse soortgelyk aan hulle Federale Volksbeleggings, Volkskas, Uniewinkels en talle meer. In daardie proses moet ons ons nie noodwendig te veel steur aan die talle nuwe wette en regulasies wat die ANC uitvaardig nie. Hulle is irrasioneel, onuitvoerbaar, rampspoedig vir die ekonomie en feitlik nie polisieerbaar nie.