EU Parlementslede bekommerd oor talle sake:

‘n Afvaardiging van die Europese Parlement se ID (Identiteit, Demokrasie)-Groep is bekommerd oor sistemiese korrupsie, sistemiese rassisme en sistemiese geweld in Suid-Afrika ná ‘n feitesending na Kaapstad.

Die afvaardiging, bestaande uit ses parlementslede, het met die EU-ambassadeur in Suid-Afrika, politieke partye, burgerlike organisasies, drukgroepe, politieke kundiges en TLU SA vergader om die huidige stand van sake in die land te bespreek, insluitend die komende verkiesings in 2024. Die afvaardiging het ook verskeie gemeenskappe besoek wat deur die hoë vlakke van geweldsmisdaad in die land geraak is.

Die afvaardiging het bevind dat die situasie in Suid-Afrika hoogs wisselvallig is en dat die ANC-regering se vermoë om wet en orde te handhaaf ernstig in die gedrang kom. Die ongebreidelde misdaad, insluitend grusame plaasmoorde, het blykbaar selfs erger geword. Boere, wat ‘n belangrike rol speel om Suid-Afrikaners te voed, ly nie net onder hierdie kriminele aanvalle, wat dikwels met militêre styl taktiek en presisie uitgevoer word nie, maar ook onder wydverspreide korrupsie in staatsinstellings, die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Rand en die bedreiging van staatsonteiening van eiendom sonder vergoeding.

“Suid-Afrika is die enigste Afrika-land wat ‘n strategiese vennootskap met die EU het, laasgenoemde is ook een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote,” lui ‘n verklaring wat ID na afloop van sy besoek uitgereik het. “Boonop is die EU een van Suid- Afrika se grootste skenkers wat ontwikkelingshulp betref. Om hierdie redes doen ons ‘n beroep op die EU en sy instansies betrokke in Suid-Afrika om ‘n beroep op die ANC-regering te doen om die ernstige bewerings van korrupsie en geweldsmisdaad aan te spreek, om plaasmoorde te prioritiseer, om wette af te skaf wat teen minderhede diskrimineer, om elektrisiteitstekorte op te los, en om private eiendomsreg onvoorwaardelik te respekteer en te beskerm deur die gewillige koper – gewillige verkoper beginsel te handhaaf.”

Wat die kwessie van eiendomsreg betref, het TLU SA gesê die Europese Unie behoort ‘n reisverbod op Cyril Ramaphosa en sy kollegas te plaas, en ook enige van hulle bates in Europa te bevries. Dit was maar net een van die versoeke wat TLU SA aan ‘n afvaardiging van die ID-groep gerig het. TLU SA se president, mnr. Henry Geldenhuys, en mnr. Henk van de Graaf, TLU SA se Noordstreekvoorsitter, het die afvaardiging van Europese parlementslede in Kaapstad ontmoet.

“Die uiteindelike effek van onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika is presies dieselfde as Robert Mugabe se destydse grondgryp van wit boere se grond in Zimbabwe,” sê mnr. Van de Graaf. “Daarom behoort die Europese Unie dieselfde maatreëls teen Ramaphosa en van sy kollegas in te stel, as wat gedoen is met Mugabe.”

Mnr. Geldenhuys het tydens die aanbieding ‘n breedvoerige oorsig oor die landelike veiligheidsituasie in die land, en veral die gebreke daarin, gegee. Die plaasmoord en -aanval statistieke is in diepte bespreek, sowel as die probleme met veediefstal, en die parlementslede het met skok gereageer toe beelde van hierdie wandade vertoon is.

Mnr. van de Graaf het ook ander probleme waarmee die landbou te kampe het uitgelig. Daarvan was die kwessie van eiendomsreg, die mislukking van die regering se sogenaamde grondhervormings, en die gevaar van onteiening sonder vergoeding, die belangrikste besprekingspunte.

“Dit is veral die kwessie van eiendomsreg wat ons genoop het om te versoek dat die EU druk op die Suid-Afrikaanse regering uitoefen om die vryemark beleid te aanvaar en in stand te hou en sodoende te keer dat ‘n Zimbabwe-uiteinde die Suid-Afrikaanse boere te beurt sal val,” sê mnr. Van de Graaf.

TLU SA het die parlementslede ook gevra vir ondersteuning om internasionale befondsing vir die Suid-Afrikaanse boere se behoeftes, en internasionale vennote vir die oprigting van verskeie gesamentlike ondernemings te vind.

Mnr. van de Graaf het die afvaardiging verder gemaan dat enige befondsing nie via die regering moet plaasvind nie, omdat dit nie die bestemming sal bereik nie.

Die ID-Groep het van die kwessies in hulle verklaring aangespreek. “Elektrisiteitstekorte raak elke enkele Suid-Afrikaner – die implementering van ‘load shedding’ beteken dat huishoudings en besighede vir etlike ure per dag sonder krag gelaat word. Die land se elektrisiteitsverskaffer Eskom, wat in staatsbesit is en ’n monopolie op kragopwekking geniet, het ’n broeiplek van Korrupsie en wanadministrasie geword.

“Die EU, saam met die VSA, het ‘n aanvanklike $8,5 miljard onder die International Just Energy Transition Partnership (JTE) belowe om Suid-Afrika se pogings tot ontkoling te ondersteun. In hierdie verband behoort die EU sy kundigheid in die hervorming van Suid-Afrika se energiesektor by te dra deur Eskom se monopolie te verbreek en ’n lewensvatbare energiemark te skep. Ons doen ‘n beroep op die EU om nie enige fondse wat vir Suid-Afrika onder die JTE bedoel is, aan Eskom, oftewel Eskom-skuldverligting, toe te wy nie. Ons doen eerder ‘n beroep op die EU om fondse, indien enige, slegs aan private, verkieslik mikro- en KMO’s, uit te betaal wat met Eskom kan meeding. Die EU moet sy bydrae daarop toespits om te help om die kragvoorsiening te verhoog, terwyl kragopwekking gedesentraliseer word, voordat hy enige dekarbonisasiedoelwitte nastreef,” sê ID.

“Wat die komende verkiesings in 2024 betref, is die afvaardiging bekommerd dat die ANC nie ‘n moontlike nederlaag sal aanvaar nie. Daar was ook wydverspreide kommer oor ‘n moontlike koalisie met die EFF-party, gegewe sy radikale Marxistiese agenda, disrespek vir private eiendom en sy dreigemente teen rasseminderhede.

Die missiebevindinge sal opgevolg word deur ‘n reeks parlementêre vrae en inisiatiewe om Suid-Afrika te help floreer as ‘n betroubare strategiese vennoot van die EU. Die afvaardiging sal voortgaan om die situasie in Suid-Afrika te monitor,” sê ID.

Tydens die gesprek van TLU SA met ID, het Cosatu ‘n nasionale verklaring uitgereik waarin dié vakbondfederasie beweer dat plaaswerkers regoor die land uitgebuit en mishandel word. Die verklaring lui verder dat boere hulle werkers aanrand, verkrag en vermoor. Dit is aan ID voorgehou, en TLU SA het daar gesê dat sulke bewerings ondersteun moet word met bewyse, saaknommers en skuldigbevindings. Dit gebeur nie, want die bewerings is ongegrond, verregaand en lasterlik.

“Dit is asof Cosatu elke dan en wan besef hulle het iets nodig om blootstelling te kry en politieke munt te slaan en dan besluit om opruiende stellings te maak oor iets wat hulle weet hulle ondersteuners gaan ondersteun, soos dat boere moordenaars, rassiste en verkragters is, sonder om te dink aan die werklike nagevolge wat dit vir boere inhou,” was Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA, se reaksie in ‘n verklaring oor die stelling.

TLU SA het daarom besluit om ‘n streep te trek teen ongegronde en benadelende stellings teen boere en het summier ‘n klag van haatspraak teen Cosatu by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

“Hierdie stelling is ‘n gruwelike veralgemening wat in elk geval geen gronde bevat net om politieke munt te slaan ten koste van die goeie verhouding tussen boere en hulle werkers,” sê mnr. Van Zyl. “TLU SA se standpunt is deurentyd dat indien daar enige oortreding van ‘n wet is, die regsproses sy gang moet gaan. Daar waar ‘n oortreding plaasvind moet ‘n saaknommer verskaf word as bewys.”

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat enige instansie sodanige veralgemening kan uiter sonder enige substansie. TLU SA eis dat Cosatu onvoorwaardelik verskoning moet aanbied teenoor elke boer in die land en verder skadevergoeding van R5 miljoen te betaal aan slagoffers van plaasaanvalle,” sê mnr. Van Zyl.

Die Afrikaner 6 April 2023