Die Afrikaner 21 April 2023

Hierdie week gaan ons voort met mnr. Jaap Marais se voordrag oor Afrikanernasionalisme. Dit gaan oor die vraag of ‘n politieke party ‘n rol het as hy nie aan verkiesings deelneem nie. Hy stel sy standpunt soos volg:

“Hierby is net enkele oorwegings ter sake. Een is dat die een-mens-een-stem-verkiesing ontwerp is as die wapen om die Afrikaners se politieke mag te breek. So ‘n verkiesing is ‘n slagveld waarop die Afrikaners telkens vernederend verslaan moet word om aan die wêreld hulle politieke onmag te adverteer. Om daaraan deel te neem, is om tegelyk aan die wêreld te kenne te gee dat die Afrikaners hulle berus in die berowing van hulle vryheid en daarom deel van die bestel wil wees.

“‘n Party hoef nie aan verkiesings deel te neem om sy politieke rol te vervul nie. Sy hooffunksie is om mense in te lig en te oorreed tot standpunt en beleid. Hy kies dan die terrein waarop hy die stryd wil aanknoop met die middels tot sy beskikking. In plaas van kragverspilling in futiele deelname aan verkiesings, versterk ‘n party homself en slaan toe waar die ander kant kwesbaar is. Die ANC het nie aan verkiesings deelgeneem nie, maar was nie daarom sonder ‘n rol in die politiek nie.”

In mnr. Marais se stuk noem hy dat die Afrikaners nou in die Vyfde Vryheidsoorlog is. Hy sê dat “dit is tans nie ‘n wapenstryd nie, maar dit is ‘n stryd met dieselfde oogmerke as ‘n wapenstryd.

“Die Eerste Vryheidsoorlog was dié van 1877-1881 wat gewen is met die wapen by Amajoeba. Die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 is verloor en het geëindig by die Vrede van Vereeniging. Die Derde Vryheidsoorlog het gestrek van 1902 tot die verkiesingsoorwinning van 1948, en van 1948 tot republiekwording in 1961 toe die Afrikaners heerskappy oor die hele Suid-Afrika gekry het. Die Vierde Vryheidsoorlog het begin by die politieke sluipmoord op dr. HF Verwoerd in 1966 en is weens ‘n reeks politieke verrade finaal verloor by die onderhandelings te Kemptonpark in 1993. Die verkiesing van April 1994 was die verseëling daarvan. Die Vyfde Vryheidsoorlog het reeds begin deur die politieke verset teen die huidige oorheersing en onderdrukking van die Afrikaners in die land waar hulle volk gebore is.

“In ‘n oorlog val die vyand sleutelstellings aan om die ander kant te verswak. En in die huidige stryd val die liberaliste en die Kommuniste veral aan op die Afrikaanse taal, die Afrikaanse onderwys, die Afrikaanse geskiedenis, die Afrikaners se morele waardes, die Afrikaners se godsdienssin, die Afrikaners se sosiale en ekonomiese sekuriteit, Afrikanernasionalisme se beginselgrondslag en veral die Afrikaners se rasbewustheid.”

Hier wil ek graag verwys na die Vryheidsfront Plus wat in die kommuniste se slaggat verval het deurdat hulle in hul stigtingsdokumente dit as hul doelstellings gestel het dat hulle hul vir selfbeskikking van die Afrikaner sal bevorder asook om vir ‘n volkstaat te veg. Hulle sou ook veg vir selfregering vir die Afrikanervolk. Wat het nou na ‘n paar jaar tussen die ANC, EFF en ander swart partye in die parlement met hulle gebeur? Hulle het hul doelstellings heeltemal hersien en is nou ’n bont party wat vir minderheidsgroepe se regte sal veg. So spog hulle reeds met swart lede wat hulle in munisipaliteite verteenwoordig, so asof hulle ‘n mini DA is. Daar is dus geen hoop dat die Vryheidsfront Plus meer vir die Afrikaner alleen iets sal beding nie.

Mnr. Marais gaan voort: “Waar dit die geval is, beteken dit dat van Afrikanerkant juis op dié terrein teruggeveg moet word met die middels tot sy beskikking.

“Natuurlik kan daar met beperkte middels nie tegelyk op al dié terreine ewe heftig geveg word nie. Daar moet dus prioriteite bepaal en kort-, medium-, en langtermyn-oogmerke gestel word.

“’n Klaarblyklike oogmerk van die vyand is om Afrikaners sku te maak vir hulle geskiedenis en hulle onder ‘n skuldbesef te plaas, sodat hulle in plaas van terug te veg, op hulle knieë voor die vyande moet gaan om belydenis te doen. Dit was kennelik die doel van die Tutu-kommissie.

“As hierteen nie effektief wal gegooi word nie, sal die Afrikaners oorspoel word deur ‘n storting van politieke modder van agter ‘n uithangbord van “menseregte” en veroordeling van apartheid.

“Die HNP het alle reg om homself met al meer oortuiging en vertroue aan te bied as die versamelbasis waarop die vryheidstryd gevoer moet word. Alleen ‘n baie sterk beginsel-en geloofsbasis sal bestand wees teen die eise wat deur die stryd gestel sal word. En net die HNP beskik oor so ‘n basis.

“Geen ander party het die trotse rekord van openbare eerbaarheid, volksdiens en trou aan ‘n voorgeslag as die HNP nie.

“Geen ander party het ook so ‘n rekord van politieke oordeelkundigheid en regte beslissings oor aktuele strydvrae as die HNP nie. Sy vooruitskouings oor belangrike sake vanaf 1969 was telkens in die kol.

“In 1969 het hy die stryd aangeknoop teen die kruipende verraad en reeds in 1971 het hy voorspel dat die NP daarop afstuur om die Blankes onder beheer van ‘n Nieblanke meerderheid te stel.

“In 1993 was die HNP die enigste party wat die Afrikaner-Volksfront en sy militêre en politieke leiers reg beoordeel het as ‘n verraderlike kombinasie wat moes verhoed dat die De Klerk-Mandela-Slovo-agenda in die war gestuur word.

“Die sterk en suiwer grondslag van die HNP, sy onkreukbare openbare rekord en die juistheid van sy politieke insig en oordeel is ‘n politieke wapenrusting wat sy ondersteuners met vertroue vervul. Hy het niks om hom voor te skaam en niks om voor verskoning te vra nie,” aldus mnr. Marais.