Vanaf die lessenaar van die Hoofsektretaris

Die Afrikaner 23 Junie 2023

Die ANC wat graag alles moontlik in die land wil bestuur en wetgewings deurvoer om hul mag uit te brei, maak ook nou planne onder die Bela-wysigingswet om skole heeltemal onder die staat se gesag te plaas en selfbestuur deur beheerliggame basies tot niet te maak.

Dit is ‘n blatante skuif om, Afrikaanse skole eerstens, en skole in die algemeen se toelatings- en taalvereistes so te wysig dat Afrikaans in skole sal verdwyn.

Mnr. Deacon van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) sê dat die talle aspekte in die nuwe wet moontlik in die hof sal draai, maar meen dat nie alles in die wet sleg is nie.

Ons Afrikaners wat meer betrokke by ons kinders en hul skole is, se siening sal heelwaarskynlik van sy siening verskil. Hy lig in elk geval vyf aspekte uit wat nie aanvaarbaar is nie. Hy sê die vyf punte dra nie by tot die gees en doelwitte van die SA Skolewet, hofuitsprake of die Grondwet uit nie.

Laat ons die punte waaroor beswaar gemaak is en wat moontlik tot hofsake kan lei, bekyk.

Mnr. Deacon sê dat die Bela-wet nie net deel van ‘n gewone wetlike proses is nie, maar dit raak die kern van die Grondwet. Hy sê as ons wette wysig, behoort dit eintlik die stelsel te verbeter, en die Grondwet sê ons wil die potensiaal van elke mens ontsluit en dat onderwys ‘n groot deel daarvoor verantwoordelik is.

Daar is blykbaar meer as 18 000 skriftelike kommentare by die parlementêre portefeuljekomitee ingedien oor die wet. Maar soos ons die ANC ken, sal hulle met hul meerderheidstem die wet net deur die parlement dryf.

Wanneer die wet deur die parlement, die Nasionale Raad van Provinsies en howe goedgekeur is, moet die president dit onderteken om wet te word. Sou Cyril Ramaphosa op daardie stadium steeds president wees, weet ons dat hy nie wette haastig onderteken nie. Maar dit sal tog uiteindelik deurgevoer word en al ons skole sal daaraan moet voldoen.

Daar is selfs ‘n aspek in die wet wat gaan bepaal dat kinders vanaf graad R verplig is om skool by te woon. Die skole waarvan gepraat word sluit alle skole in, ook CVO-skole en tuisskoolonderrig. Die ANC wil dus verseker dat hulle ons kinders van so vroeg as moontlik af kan breinspoel met hul kommunistiese denkwyses en doelstellings.

‘n Ander aspek wat sal maak dat ouers nie in beheerliggame sal wil dien nie, is die sentralisering van die aankope van leermateriaal en ander items, en soos ons die ANC geleer ken het, is dit ‘n ideale teelaarde vir korrupsie.

Die vereiste is dat ‘n lid wat op die beheerliggaam wil dien, sy finansiële belange moet verklaar en dit sal veroorsaak dat heelwat bekwame persone nie op skole se beheerliggaam sal wil dien nie. Dit is ook ‘n groot bekommernis. Verdere beswaar oor meer administrasie wat op skole geplaas al Word, is dat skole kwartaalliks verslae oor alle inkomste en uitgawes moet indien.

Hierdie is van die uitskieters van die wysigingswet en sal dit gehalte-onderwys en Moedertaalonderrig geensins bevorder nie en ons kinders net verder van hul geskiedenis en taal Vervreem. Dit is iets wat ons ernstig sal moet teenstaan, veral in die lig dat CVO skole en selfs tuisonderrig, ook onder die wet sal moet werk.

Ons kinders word reeds met foutiewe geskiedenis oorweldig en nou gaan hulle taalgebruik ook aangetas word. Dit laat my dink hoe die Engelse ons kinders na die tweede Engelse oorlog in skole hanteer het as hulle dit durf waag het om Afrikaans te praat.