Die Afrikaner 21 Juli 2023
Ons gesprek die laaste paar uitgawes in hierdie kolom, het veral gegaan oor moontlike geleenthede wat ontstaan, maar dat optrede altyd die beginsel moet volg.
Waar die politiek deesdae hol is aan beginsels en vol is van opportunisme, bly dit belangrik om die beginselbasis deurentyd aan te spreek. Daar word veral met die oog op die verkiesings van volgende jaar gepraat oor koalisievorming, maar in die gesprekke is daar sover geen beginsel ter sprake nie, net die opportunisme om die ANC se mag te breek.
Skrywer hiervan het so ‘n paar jaar gelede ‘n kongres bygewoon, waar die voormalige grootbaas van ‘n motorfabrikant die motiveringspreker was. Hy vertel toe daar dat toe hy as ‘n jong man by die motorvervaardiger begin werk het, die toenmalige grootbaas het vir hom gesê dat hy (die grootbaas) glo daar is potensiaal in die jongman.
Hy gee hom op ‘n Vrydag huiswerk om te doen: die huiswerk was om ‘n lys te maak van al sy beginsels en waardes waarin hy glo. Die jongman doen dit toe en kom na die naweek met sy lysie terug by die werk, en wil die lysie vir die baas gee. Dié wil dit nie hê nie, maar sê die volgende vir die jong man: “Daardie lys dra jy altyd by jou. Dit is jou waardes en beginsels, niemand anders s’n nie. As jy in jou lewe soms moeilike besluite moet neem, haal jy die lysie uit en besluit of die besluit enigsins versoenbaar is met jou waardes en beginsels. As dit nie is nie, moet jy nie daardie besluit neem nie, al maak dit jou hoe ongewild of hoe ongewild jou besluit dan vir andere mag wees. As jy hou by jou waardes en beginsels, sal jy nooit ‘n fout maak nie.”
Wel, die jongman het daarby gebly en het sy grootbaas as grootbaas opgevolg en daarvan ‘n reuse sukses gemaak.
Die politiek van vandag het nie meer daardie lysies nie.
Daar is daagliks al hoe meer geleenthede wat ons as Afrikaners sou kon benut om hierdie stelsel te dwing om aandag aan ons vryheidstrewe en soewereiniteit te gee. In plaas daarvan, glip die geleenthede deur ons vingers en laat ons onsself al hoe meer en dieper in hierdie Afrikaner-verdrukkende stelsel intrek.
Die ANC-bewind se stelsels en strukture is die een na die ander besig om in duie te stort, of sodanig tot stilstand te knars dat dit nie werklik meer werk nie. Die jongste voorval is die Menseregtekommissie, wat deur die Johannesburgse hooggeregshof in wese sodanig aan bande gelê is, dat dit nog meer irrelevant geword het as wat dit reeds was. Dit skep ‘n geleentheid vir ons mense om weer sterker na vore te kom vir ons saak, en ons gedagtes duideliker uit te spreek. Te veel van ons het al so bang geword vir die Menseregtekommissie (MRK) wat kan toeslaan, dat ons eerder stilbly, want as ons werklik vir ons regte opstaan, en die situasie in die land en die regering se optrede by die naam noem, dit dalk as haatspraak gesien kan word.
Ons het die les van Afrika vergeet: die sterke regeer. Ons moet weer opstaan en sterk word, en staan op ons regte, wat op beginsels gebaseer is. Ons moet die rigting van die gesprek oor ons bepaal, en ophou om toe te laat dat dit vir ons gedoen word deur ander wat nie ons Afrikaners se belange wil bevorder nie, maar dit eerder wil vernietig.
Die verval op elke terrein, maak ons geregtig daarop om te kan sê dat die ANC nie kan regeer nie. Omdat die ANC homself met rasse-wetgewing, soos swart ekonomiese bevoordeling, “affirmative action”, kwotas in sport, besig hou, strek hy self die gesprek op logiese wyse deur dat ons kan sê dat die Swartes nie die land kan regeer nie, soos dit al vir dekades duidelik geword het in die res vir Afrika, en waarvoor staatsmanne soos dr. HF Verwoerd en Ian Smith gewaarsku het. Daardie waarskuwings het waarheid geword.
Om nou ter wille van politieke korrektheid, soos dr.Pieter Groenewald onlangs gedoen het, te sê dat Suid-Afrika nie weer ‘n blanke president sal kan kry nie, en daarom die IVP-leier as moontlike president wil voorstel, kom neer op uitgestelde volksmoord. Dit gaan die Afrikaner die valse gerusstelling gee dat so ‘n regering beter gaan wees as wat ons nou het.
Daar is nog nie geleer uit ons geskiedenis van die afgelope dertig jaar nie. Mandela was die groot redder van die reënboognasie. Daardie reënboog bestaan lank nie meer nie en het totaal verswart. Thabo Mbeki is gesien as iemand met rede, want hy het in Engeland gestudeer, praat redelike netjiese Engels en hy rook pyp. In sy tyd het hy die prosesse waarmee Mandela begin het, waaronder swart ekonomiese bevoordeling ten koste van die Blankes, begin deurvoer. Toe Jacob Zuma aan bewind kom, was daar Afrikaners wat gedink het dit gaan die situasie vir ons volk verbeter, want die Zoeloes het meer volkstrots en sal daarom nader aan die Afrikaner wees. Wat ‘n ontnugtering!
Natuurlik was almal verheug toe Zuma herroep word en deur Cyril Ramaphosa vervang is, want Ramaphosa is ‘n sakeman wat die vryemarkekonomie verstaan en daarom begrip en waardering sal hê vir die Afrikaner se onontbeerlike bydrae tot die ekonomie. Tans wil dit voorkom of Ramaphosa as die mees ongewilde swart president die geskiedenis sal ingaan.
Wil ons daarom weer ‘n swart president hê, net omdat sekere politieke elemente nie daarvan sal hou nie? Weer ‘n Dingaan, weer ‘n Zuma, en ons maar weer in die agterbanke van die stelsel?
As daar ooit ‘n tyd was dat die Afrikaner sou kon eise stel, is dit nou. Ons moet weer onsself vestig as die sterke, wat respek afdwing. Die staat faal en kan eenvoudig nie meer alles beheer wat hy deur wette of regulasies wil afdwing nie. Dit is geleenthede waarna eerder gekyk moet word as om vir ‘n plekkie in ‘n koalisie te beding, onder ‘n swart president, wat ook swart bevoordeling gaan toepas, transformasie gaan bevorder en meer weet van tradisionele leiers se sake as om ‘n moderne land met ‘n volkere verskeidenheid te bestuur en te stuur.
Haal weer die lysie van beginsels en waardes uit – daardie lysie wat ons opgestel het omdat ons voorsate ons daardie waardes geleer en meegegee het.