Presidensie van skandes:
“Wie kan ‘n staatshoof en sy adjunk nog as ‘ons president’ beskou as hulle beide met misdaad verbind word? Hulle is niks van ons Afrikaners nie, hulle verdien nie ons respek nie, en hoe gouer ons paaie fisies skei, hoe beter.”
Dit was die stelling van die leier van die HNP, mnr. Fritz van Graan nadat Cyril Ramaphosa (soos verwag is) deur die waarnemende Openbare Beskermer (OB) vrygespreek is oor die gebeure by Phala-Phala, sy plaas naby Warmbad, en skokkende onthullings oor sy adjunk, Paul Mashatile.
Alhoewel die OB se bevinding verwag is, omdat dié deur Ramaphosa aangestel is en die gesegde geld: “Wiens brood mens eet, diens woord men spreekt”. Tog het die OB die ondersoek baie beperk gehou, en is daar steeds moontlikhede dat hy deur die vervolgingsgesag op grond van moontlik ander klagtes vervolg kan word.
‘n Verdoemende verslag oor Mashatile se private lewe en goed ondersteunde bewerings dat hy toegang gehad het tot eiendomme wat besit word deur mense wat by staatskaping baat gevind het, het die lig gesien.
Volgens ‘n verslag van News24 het Mashatile tot onlangs die gereelde gebruik gehad van ‘n eiendom wat deur die omstrede sakeman Edwin Sodi besit word. Sodi staan tans tereg op aanklagte van voordeel uit staatskaping. Die Zondo-kommissie het aanbeveel dat die Nasionale Vervolgingsgesag dit moet oorweeg om hom aan te kla vir sy rol in die asbesskandaal in die Vrystaat. Intussen is die betrokke eiendom nou deur die staat gekonfiskeer omdat dit die opbrengs van misdaad was.
Natuurlik het Mashatile die bewerings ontken en gesê dit is “ongestaaf”. Tog het hy nie ontken dat hy ‘n verhouding met Sodi, of die ander sakepersoon wat in die verslag genoem word, Ndavhe Mareda, gehad het nie.
Mashatile is nog verder in die spervuur geplaas toe dit blyk dat dit sy berugte blouligbende se lede is Presidensie van skandes: “Hulle is niks van ons” – HNP-Leier wat ‘n motoris uit ‘n voertuig geruk het, geskop en geslaan het en vir dood agtergelaat het, omdat dié motoris dit gewaag het om in Mashatile se hoësnelheid konvooi in te druk. Vier lede van die polisie se beskermingsdiens is geskors oor die voorval, terwyl dit nog onseker is of Mashatile in die voertuig was toe sy “beskermers” uitgeklim het om die gewelddadige handeling te pleeg. Dit is seker een van die gruwelikste voorbeelde van magsmisbruik deur die polisie.
Ook die voormalige adjunk-president en voorganger van Mashatile, David Mauza, blyk onder verdenking te wees. Mabuza is in ‘n saak wat al sedert 2010 in die howe sloer, en wat in die Pretoriase Hooggeregshof dien, geïmpliseer by politieke inmenging, sluipmoord, intimidasie en korrupsie. Een van die getuies in die saak teen Mabuza, die voormalige hoof van Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA), Bushang Jacques Modipane, het getuig dat tydens Mabuza se ampstermyn vanaf 2009 in Oos-Transvaal, baie mense in die ANC vermoor is, en hy het aangedui dat hy vrees vir sy veiligheid omdat hy dalk geteiken kan word. Modipane het gesê dat hy baie kwaad is vir Mabuza omdat hy sy gesin “nou al nege jaar lank in ’n krisis geplaas het, amper 10 jaar verdien ek nie ’n bestaan weens Mabuza nie.”
“Twee agtereenvolgende presidente en twee agtereenvolgende adjunk-presidente word nou betrek by verskillende vlakke van misdaad. Dit is tog geen beskaafde land nie, en ons as Afrikaners behoort nie langer daarmee saam te leef nie,” sê die HNPleier, mnr. Fritz van Graan.
In ‘n eksklusiewe onderhoud met Die Afrikaner het mnr. Van Graan gesê dat geen Afrikanerregering ooit in so ‘n gemors was nie. “Dit word tog daagliks al hoe duideliker dat hierdie geen regering is nie, maar mense wat die staat kaap of laat kaap, hulleself bevoordeel en geen gevoel vir die land of enige van sy mense het nie – nie eens hul eie mense nie,” sê mnr. Van Graan.
Gevra of hy nie dink die verkiesing van volgende jaar kan ‘n oplossing bied, veral nou daar so baie oor koalisievorming gepraat word, het mnr. Van Graan geantwoord dat waarskynlik niks gaan verander nie. “Regering gaan nie net oor die uitroei van korrupsie en dienslewering nie. Dit gaan ook oor die ontwikkeling van mense, en dit kan slegs binne volks- en kultuurverband plaasvind. Sou daar ‘n koalisie aan bewind kom wat steeds die huidige geïntegreerde skole en universiteite gaan handhaaf, gaan daar spanning en probleme wees. Solank daardie koalisie, wat uit ‘n meerderheid Swartes moet bestaan, gaan voortgaan met sogenaamde transformasie, wat tot dusver alles verwoes het, is daar geen verandering nie. Geld kan dalk minder gesteel word en paaie kan dalk beter onderhou word, maar dit is nie ‘n langtermyn oplossing nie.
“Bowendien sal die ontplooide ANC-kaders nie so vinnig uitgesnuffel en vervang kan word dat korrupsie en diefstal tot ‘n einde gaan kom nie. Die enigste wat Afrikaners met selfrespek kan aanvaar is dat ons ten volle selfbeskikking eis om oor ons eie sake te beslis deur ‘n eie verkose regering,” sê mnr. Van Graan. “En bowendien, na ‘n volgende termyn sou die ANC of EFF weer die verkiesing kan wen, en dan is hulle terug en gaan die onderdrukking van die Afrikaner en die witman maar net weer voort. ‘n Verandering deur die stembus bied dus geen waarborge of langtermyn sekerheid nie.”
Hy het nie baie hoop vir die koalisie-gesprekke wat in Augustus plaasvind nie. “Solank daar nie oor beginsels gepraat word nie, is die kiem van mislukking reeds daar. ‘n Blote opportunistiese doelwit om die ANC en EFF uit die regering te hou, is nie volhoubaar nie. As daar nie oor beginsels gepraat word nie, en as die Afrikaner se eis vir selfbeskikking nie deel van daardie gesprekke is nie, is dit ‘n oefening in futiliteit en kan ons nie opgewonde daaroor word nie. Die Afrikaner moet nou opstaan en sy reg tot vryheid sterker as ooit stel, Die bedeling moet verander, nie die partye nie,” sê mnr. van Graan.
07 07 2023 Die Afrikaner