Die Afrikaner 18 Augustus 2023
“U is heeltemal reg in u opmerkings dat Blankes doelbewus geteiken word en dat iets wat waarskynlik aan die definisie van ‘n volksmoord voldoen, in Suid-Afrika aan die gang is. Dit is dan ook die rede waarom soveel Blankes reeds die land verlaat het, en talle ander dit ook sou wou doen as daar ‘n geleentheid voor sou wees.”
Só sê die HNP-leier, mnr. Fritz van Graan, in ‘n brief wat hy aan die Suid-Afrikaans gebore Amerikaner, Elon Musk geskryf het.
In die brief aan Musk sê mnr. Van Graan dat die HNP van Suid-Afrika met groot waardering kennis geneem het van Musk se opmerkings op sosiale media, waar hy verwys het na Julius Malema se “Kill the Boer, kill the farmer”-oproep, “en waarin u ook u verbasing uitgespreek het dat die land se staatshoof, Cyril Ramaphosa, niks daaroor sê nie.”
Mnr. Van Graan skryf verder: “Die HNP van Suid- Afrika is as politieke party in 1969 gestig, toe dit duidelik geword het dat die land op ‘n swart regering gaan afstuur. Dit was nie te lank na die gebeure in die Belgiese Kongo nie, en wat met die Blankes daar gebeur het, was nog vars in die geheue. Gebeure in ander Afrika-lande waar Blankes vermoor en verjaag is, het die HNP laat besef dat dieselfde lot Suid-Afrika gaan tref sou ‘n swart regering die bewind oorneem. Dit is inderdaad wat nou gebeur.
“Ons heg vir u ‘n dokument, Die Vryheidseis van die Boere-Afrikanervolk, aan soos opgestel deur ’n verkose Boere-Afrikanervolksraad. Hierdie dokument is persoonlik aan Ramaphosa oorhandig toe hy adjunkpresident van die land was en waargeneem het as president toe Jacob Zuma elders in die wêreld was. Tydens die oorhandiging en gepaardgaande gesprek was dit duidelik dat daar geen simpatie vir die Blankes en in besonder die Afrikaners is vanaf die kant van die ANC-regering nie.
“Hierdie saak behoort verder gevoer te word, tot in internasionale forums en howe. Die ANC se beleid van ‘affirmative action’, doelbewuste swart bevoordeling en blanke benadeling in die werksplek, het gelei tot verliese aan inkomste en toenemende armoede onder die Blanke en Afrikanerbevolking, tot so ‘n mate dat enige internasionale aksies, buite ons finansiële bereik is, wat beteken dat die ANC-regering en sy EFF bondgenoot, ongehinderd kan voortgaan met die vernietiging van die Blanke en Afrikanerbevolking.
“Nietemin is dit vir ons as Blankes en Afrikaners, ‘n riem onder die hart dat mense soos u die dinge raaksien en nie daaroor swyg nie, en ons dank u daarvoor,” sê mnr. Van Graan.