Afrika en demokrasie: Die Redakteur: Die Afrikaner 8 September 2023

Die voormalige Rhodesië, ‘n beskaafde land met ‘n sterk ekonomie onder daardie naam, en in 1980 oorgedra aan die terroriste van ZANU-PF wat dit na Zimbabwe herdoop het, het onlangs weer hulle algemenewverkiesing gehou. Soos te wagtewhet die regerende party met Robert Mugabe se opvolger, Emmerson Mnangagwa, die verkiesing gewen, en is hy sommer vinnig-vinnig ingehuldig vir ‘n tweede presidentstermyn.

Verskeie instansies, binne en buite Zimbabwe, waaronder die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap (SAOG), het verklaar dat die verkiesing nie vry en regverdig was nie en tekort geskiet het in terme van dié land se eie grondwet. Nelson Chamisa, die Zimbabwiese opposisie-leier, het Daarop aanspraak gemaak dat hy die verkiesing gewen het.

‘n Suid-Afrikaanse waarnemingspan was ook daar, maar kon in tipiese Afrika-tyd nie sy verslag oor die regverdigheid al dan nie van die verkiesing betyds klaarkry nie. Cyril Ramaphosa het nie daarvoor gewag nie, en dadelik in sy vliegtuig of helikopter gespring om die voorgestoeltes by Mnangagwa se inhuldiging te kan inneem. Hy was een van slegs drie Afrikaleiers wat dit gedoen het.

Selfs die res van Afrika, waar die “demokrasie” ook dikwels meer ‘n stuk filosofie op papier is as wat dit in die werklikheid blyk, kon aanvoel dat dinge nie reg was nie, en het by wyse van stille protes weggebly van die inhuldiging.

Dié optrede van Ramaphosa vertel natuurlik sy eie verhaal.Natuurlik woon hy die inhuldiging by sodat hy darem ‘n dag lank kan wegvlug van sy eie probleme, wat daagliks meer word terwyl die kritiek teen hom steeds feller word, selfs vanuit die linkse kringe wat hom aanvanklik as die ridder op die wit perd gesien het, en nou besef dat hy nie eens op ‘n vaal donkie kon bly sit nie. En terwyl hy in Zimbabwe is, kan hy darem glimlag vir hulle media-kameras in ‘n wanhoopspoging om nog so effe sy eie beeld te poets.

Die feit dat hy egter nie eers wag vir sy eie waarnemingspan se verslag nie, wys dat hy daar dus in wese geen erg aan het nie. Wat as die verslag nou tot die ndenkbare bevinding kom dat die Zimbabwiese verkiesing inderdaad so vrot van onreëlmatighede was, dat dit in wese nie erken kan word nie? Dan het hy ten spyte van al sy demokratiese praatjies, die sogenaamde demokrasie met beide voete vertrap. Ongeag die uiteindelike inhoud van daardie verslag, het hy dit in wese reeds gedoen deur die bevindings van die SAOG, wat wel betyds beskikbaar was en waarvan hy lid is, ook in die wind te slaan.

Suid-Afrika gaan volgende jaar na die stembus. Ramaphosa, as hoof van die ANC-regering wat die staatsdiens en verkiesing beheer, se optrede ten opsigte van Zimbabwe, is ‘n baie goeie maar ook ontstellende aanduiding van wat in Suid-Afrika kan gebeur.

Tussentydse plaaslike regeringsverkiesings se uitslae, asook meningspeilings, skets geen alte rooskleurige prentjie vir die uitkoms van die 2024-verkiesing nie. Ramaphosa het in Zimbabwe gaan uitvind hoe om ‘n gekookte verkiesing te laat wettig lyk, sodat hy dieselfde in Suid-Afrika kan doen.

Die argument dat daar juis daarom na die stembus opgetrek moet word om teen die ANC se gaan stem, bly egter steeds maar flou. Daar is geen enkele party wat sterk genoeg is om die ANC uit die kussings te lig nie. Tans word daar aan koalisies gewerk, wat uiteindelik een mengpot van gematigdheid en beginselloosheid gaan wees, want die stemme tel meer as die beginsels, en enige verbetering daarna is wensdenkery.

Bowendien, as die ANC nou mooi geleer het by Zimbabwe, kan hulle verkul net soveel soos hulle wil. Of die bedrog gepleeg word om ‘n miljoen stemme te laat wegraak, of om vyf miljoen stemme te laat wegraak, is tog geen wesenlike verskil vir ‘n party en bestel wat dit regkry om miljarde rande te laat wegraak, asof dit nooit bestaan het nie.

En as dit nie help nie, is daar die laaste kans, want hulle het gesorg dat hulle ‘n stewige houvas op die polisie en weermag het: ‘n militêre oorname. Dit is ook redelik algemene praktyk in Afrika. In Gaboen het ‘n staatsgreep plaasgevind net na ‘n verkiesing toe daar ontevredenheid was met die uitkoms, weliswaar omdat die sittende president herkies is. In Niger is ook ‘n staatsgreep uitgevoer, en in Burkina Faso was daar verlede jaar sommer twee staatsgrepe. Nog staatsgrepe binne die afgelope drie jaar het plaasgevind in Gaboen, Mali en Guinee.

Die euforie van die sogenaamde demokratisering van Afrika is dus weer vinnig besig om plek te maak vir die ou manier van doen: diktature soos dié wat gesien is onder Muammar Ghadaffi, Idi Amin Dada, Kenneth Kaunda en andere. Waarom sal Suid-Afrika anders wees as die res van Afrika?

Ons stem sal daar niks aan kan verander nie, want ons kan nie op ‘n sokkerveld speel met rugby se spelreëls nie. Dit is wat in Suid-Afrika aan die gang is. Ons gaan op ander wyses moet dink en optree om onsself te beskerm en te handhaaf, anders as die kruisietrek strategie wat die afgelope dertig jaar net so misluk het as die ANC self.