Wat sit werklik agter plaasmoorde?

Groot meningsverskil het losgebars oor die onlangse navorsing van prof. Rudolph Zinn, kriminoloog en oud-polisieman met kennis van geweldsmisdaad en forensiese ondersoeke.

In sy jongste navorsing het hy gaan praat met veroordeelde plaasterroriste in die tronke. Dié het vir hom vertel dat hulle geen politieke motiewe het nie en dat hulle die aanvalle gedoen het vir geld. Die dikwels buitengewone geweld wat hulle toepas, is om die boere en hulle gesinne te intimideer sodat hulle sê waar die geld geberg word. In sommige gevalle soek hulle dadelik ‘n strykyster en skakel dit aan, dan praat die mense dadelik.

Waar daar aan die een kant mense is wat waardering het vir Zinn se navorsing, omdat hy dit op ‘n wetenskaplike basis uitgevoer het, is daar ander wat sê die reikwydte van die ondersoek was te klein om ‘n gesaghebbende bevinding te kan maak. Zinn het met sleg 30 veroordeelde plaasaanvallers in tronke gesels. Verder word in totaal slegs 7% van ernstige geweldsmisdaad in Suid-Afrika sodanig opgelos sodat ‘n oortreder skuldig bevind kan word.

Van die felste kritiek op Zinn se bevinding dat daar geen politiek agter sit nie, is dat dit voor die hand liggend is dat die misdadigers dit nooit sal erken nie, want dan is hulle lewens in die tronk niks meer werd as hul bepaalde politici daaraan sou verbind nie. Hulle is in wese oneerlik, en waarom sal hulle dus in hierdie geval werklik eerlike antwoorde gee. Dit is meer waarskynlik dat hulle medemisdadige politici sal beskerm as om dié voor die wolwe te gooi en daarmee hul eie lewens nikswerd te maak.

Die ander kritiek teen Zinn is dat sy navorsing vrygestel is min of meer dieselfde tyd as wat die saak teen Julius Malema oor “Kill the Boer, kill the farmer” voor die hof gedien is. Die regspan van Malema het reeds aangevoer dat daar geen bewese verband bestaan tussen die sing van die liedjie en plaasmoorde nie, en hulle kan dalk net hierdie “wetenskaplike navorsing” gebruik om hulle saak te versterk.

Wat egter wel blyk, is dat die aanvalle lank vooraf haarfyn beplan word. Die inligting word ingewin deur plaasarbeiders wat of geïntimideer word, of by drankhuise hulle mond verbypraat oor wat die boer in sy huis het. Dit is dus duidelik dat boere so min moontlik inligting aan hulle werkers moet gee, en dat huiswerkers ook nie alles moet weet nie. Die inligting word soms onopsetlik oorgedra aan die terroriste as daar veral drank betrokke is.

Die SA Polisiediens wil sy landelike veiligheidsplan aanpas en daarin ook voorsiening maak dat “die stem van die werkers” daar gehoor moet word. Gesaghebbendes in landboukringe het al gewys op die gevaar hiervan, want dan weet plaaswerkers nog meer as tans, en kan die hele plaaslike veiligheidsplan sodoende geopenbaar word aan terroriste wat plase teiken. Uiteindelik gaan meganisering om arbeid te vervang nie net vanuit ‘n ekonomiese oogpunt sin maak nie, maar ook en veral vanuit ‘n veiligheidsoogpunt.

Een van die kommentare op sosiale media oor Zinn se bevindinge, lui: “Na my mening is Zinn se navorsing niksseggend. Hy baseer sy gevolgtrekkings aan die hand van onderhoude wat hy gevoer het met 30 aanvallers in die tronk… Eerstens sal enigeen wie se adres bekend is (soos iemand wat in die tronk sit) baie dom wees om aan enigiemand te erken as hy enige betaling, vergoeding of aansporing van enige politikus of groepering ontvang het om die aanval te loods. Tweedens moet ons in gedagte hou hoe bitter klein persentasie van plaasaanvallers gearresteer en gevonnis word… Dit is net logies om aan te neem dat die meerderheid van die wat in die tronk sit opportuniste is wat ‘n roof probeer uitvoer het en uitgevang is. Die ouens met die spesiale opleiding en toerusting soos selfoonblokkers is nog grootliks op vrye voet en is nie deur Zinn ondervra nie.”

TLU SA het intussen sy bygewerkte plaasmoord en -aanval statistiek, wat Augustus 2023 insluit, bekendgestel. Daarvolgens was daar in Augustus vanjaar 19 aanvalle waarin 4 mense dood is, teenoor 16 aanvalle waarin 3 mense vermoor is in Augustus 2022. Daar is dus ‘n duidelike styging in beide aanvalle en noodlottige gevalle, en waarnemers glo vas dat politieke opswepery dit aanvuur, ten spyte van Zinn se beperkte navorsing.

Die statistiek dui dat daar sover in 2023 124 plaasaanvalle was waarin 39 mense dood is. Per provinsie is die sterftes: “Gauteng” 8, Oos-Transvaal 7, Vrystaat 6, Wes-Kaap 5, beide Natal en Oos-Kaap 4 elk, Wes-Transvaal 3, Noord-Transvaal 2 en 0 vir die Noord-Kaap. In totaal staan die aantal plaasmoorde sedert 1990 op 2 252 en was daar 6 229 aanvalle, maar laasgenoemde kan selfs hoër wees omdat waar niemand beseer of gedood is nie, of waar boere die aanval self suksesvol afgeweer het, dit nie amptelik gerapporteer word nie.

As die syfers van die sterfte-slagoffers verder ontleed word, is daar 22 blanke boere in 2023 vermoor, 0 swart boere, 9 blanke familielede, 1 swart familielid, 2 blanke werkers, 5 swart werkers, en besoekers was 0 in beide blanke en swart gevalle. Sedert 1990 lyk die syfer van vermoordes so: 1 339 blanke boere, 87 swart boere, 52 blanke familielede, 53 swart familielede, 37 blanke werkers, 178 swart werkers, 30 blanke besoekers op plase en 7 swart besoekers.

Prof. Zinn se bevinding dat mense gemartel word vir geld, kan bevraagteken word weens die feit dat swart werkers ook geteiken word, terwyl sy redenasie juis is dat daar ‘n persepsie is dat blanke boere ryk is en geld het. Wat volgens kenners in die landboubedryf egter eerder die situasie is, is dat weens die feit dat boere en hul werkers op mekaar aangewese is weens afstand bande tussen blanke en swart families oor geslagte opgebou is, daar wedersydse lojaliteit is en dat van die werkers wel hulle werkgewers probeer help. Dit maak nie die politieke motief minder nie, is aan Die Afrikaner gesê.

Die Radakteur. 22 September 2023: Die Afrikaner