Die Afrikaner 8 September 2023

Ons gaan vandag verder met mnr. Jaap Marais se toespraak waarin hy die verskil tussen Afrikaners en Afrikanernasionaliste uitspel.

Hy wys daarop dat sekere Afrikaners soos FW de Klerk, Roelf Meyer en Constand Viljoen as Afrikaners gesien word. Maar tussen hulle en die Afrikanernasionaliste is daar ‘n totaal onoorbrugbare kloof. Die sogenaamde Afrikaners is nader aan die Amerikaanse liberalisme en selfs aan die ANC-SAKP as aan die Nasionale Party van genl. Hertzog, dr.Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd.

“Die liberalisme kan geen gemene saak hê met die nasionalisme nie,” het mnr. Marais gesê. Daarom, met die huidige verdeeldheid, moet ‘n mens aanneem dat as daar gepraat word oor eenheid, dit nie moontlik is om jou polities te versoen en jou te verenig met hierdie liberalisme nie. Die Afrikanereenheid moet dus, soos tevore, ‘n beperkte eenheid wees van dié wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort.

“Daarnaas moet ‘n mens in tye waar daar gepraat word oor herstel van eenheid, die vraag stel: Het die volkstaatgedagte die volk verenig of enigsins bygedra tot die strewe na eenheid? Het dit die volk aangespoor tot weerstand en verset en goed moontlik tot gewapende opstand om sy regte te beskerm teen die uitverkopers? Of was dit die verskoning vir vredesonderhandelinge met die ANC-SAKP? U weet, die ANC het in die Chicago Tribune gesê hulle strategie was om die regterkant aan die praat te hou solank as moontlik om daardeur enige ander aksie uit te skakel. Dié gepraat het gegaan oor ‘n volkstaat. Dit het nie net gelei tot verdeeldheid nie, maar tot groot frustrasie onder Afrikaners.

“En in hierdie tydsgewrig waar ons te maak het met ‘n volgehoue oorlog teen die Afrikaner, moet u uself afvra of dit enigsins ons hoogste prioriteit was en is om te pleit vir ‘n volkstaat, en dit by jou vyand.

“Met al die regmatige fundamentele en sentimentele verknogtheid aan die idee dat ons onsself moet regeer binne ons eie grondgebied, moet ons aanneem dat die volkstaatgedagte nie eenheid bevorder het nie, en in die kritieke stadium klaar daartoe gelei het dat nie weerstand opgewek is teen die magte wat ons wil vertrap nie, maar dit juis daarvan weggelei het na vredesonderhandelings.

Volkstate aan ander volke

“Dit was in teenstelling met wat gebeur het in die vorige eras, toe daar sukses behaal is langs die teenoorgestelde weg. Ons het in ons geskiedenis geen parallel met iets soos die huidige strewe na ’n volkstaat nie, waardeur Afrikaners bereid is om die mag oor hulle land prys te gee, en dan te sê hulle sal, nadat alles prysgegee is, ‘n stukkie grondgebied gaan terugvra. Daar is geen heldefiguur in ons geskiedenis wat vereenselwig word met so ‘n volkstaatstrewe nie. Daar is wel in ons geskiedenis die Afrikanerleiers wat gesê het ons moet vir onsself ‘n toestand skep waar ons oor onsself kan regeer.

“Hulle was tegelyk bereid om vokstate te gun aan alle ander volke in Suid-Afrika, maar geen reg aan hulle om oor ons te regeer nie. Dié idee van meerdere volkstate is nie verwerklik nie, omdat die proses kortgesluit is deur die moord op dr. HF Verwoerd. Maar dié beleid het nie misluk nie: dit is verraai deur swakkelinge aan die politieke leiding. Die Afrikanervolk moet nie toelaat nie dat aan hom vertel word dat hy sy land skuld aan die Swartes, en dat hy nadat alles prysgegee is, ‘n stukkie moet gaan terugvra vir homself. Dit is ‘n gruwelike vernedering in ‘n elke patriotiese sin.

“Ons het as gevolg van die volkstaat-gedagte meervoudige verdeeldheid, want binne die volkstaatgedagte is daar minstens vier modelle, plus ‘n groot verwatering en verwarring wat daaruit voortgevloei het. Constand Viljoen het in September 1993 reeds gesê die volkstaat se belangrikste grondslag is ‘n eie grondwet wat aan internasionale vereistes voldoen, onder meer sonder diskriminasie, wat net ‘n napraat van die Nasionale Party was. Hier is die Memorandum van Ooreenkoms wat hy aangegaan het met Thabo Mbeki en waarvan die eerste artikel lui: “Both parties are committed to the development of non-racial democracies”. Albei partye is verbind tot die ontwikkeling van nie-rassige demokrasieë.

“Wat die volkstaat betref, is al waartoe die ANC hom verbind soos volg: “They both accept that many Afrikaners have expressed a desire for selfdetermination in a volkstaat. The parties agree that this desire should be addressed expeditiously”.

Dus, geen verbintenis van die ANC tot ‘n volkstaat nie; nee, hulle verbind hulle net daartoe dat die saak bespreek sal word. Maar Constand Viljoen is verbind tot ontwikkeling van nie-rassige demokrasieë. Dit is van die verwarring en verwatering wat ingetree het, wat van die volkstaatstrewe ‘n bespotting maak, en wat nog groter verdeeldheid veroorsaak onder Afrikaners.”

Na Viljoen se deelname aan die verkiesing is die volkstaat-gedagte agtergelaat en het Viljoen sy ondersteuners betrek om aan die nuwe politieke stelsel deel te neem. En nou wil sy ondersteuners steeds deelneem aan die ANC se verkiesing, sonder om in ag te neem dat hul steun geen verskil aan die uitslag sal maak nie.

H F van der Schyff