H F van der Schyff Die Afrikaner 22 September 2023

Ons gaan vandag nog verder met mnr. Jaap Marais se toespraak, waarin ons in vorige uitgawes begin het.

Hy sê “Maak Afrikaner-nasionalisme ‘n mag”

“As ons ‘n volkstaat moet kry, dan sal dit alleen tot stand kom wanneer Afrikaner-nasionalisme, as ‘n bewegingsmag in Suid-Afrika, die volk aandryf tot bereiking daarvan. As ‘n volkstaat in gedagte is en ‘n volkstaatstrewe bevorder moet word, is die eerste vereiste dat Afrikaner-nasionalisme tot ‘n mag opgebou moet word. Dis die primêre vereiste. Net soos die Nasionale Party van 1934 nie as hulle onmiddellike oogmerk die totstandbringing van ‘n republiek gestel het nie, maar deur ‘n hele reeks prioriteite gegaan het van 1948 tot 1960, twaalf jaar lank — voordat hulle gekom het by die daad om ‘n republiek tot stand te bring. Al die voorwaardes moet eers nagekom word, en in die proses moet die volk opgevoed en opgelei word tot die daad wat verrig moet word om die vryheid te kry.

“MANIERE VAN EENHEIDSHERSTELLING”

“As ons dink aan eenheid herstel, is daar net een van twee maniere waarop dit gedoen kan word: ‘n vinnige sameflansing, wat gewoonlik plaasvind rondom die argument: die toestand het so sleg geword, die ellende is só groot, die bedreiging is so gewelddadig, dat ons dadelik almal moet saamstaan. Dan kry ‘n mens die verskynsel soos by die stigting van die Afrikaner-Volksfront. Dit is gestig in Mei 1993. Tien maande later, in Maart 1994, spat dit uitmekaar, en toe is daar groter verdeeldheid weens daardie saamgeflanste eenheid.

“As daardie pad nie gevolg word nie, is die alternatief dat daar ‘n sentrum van gesag en geloof en beginsel gevestig moet word. Daaromheen moet mense versamel word wat gebind word deur hulle geloof en hulle beginsels en idealisme. Dit is die duursame manier, die manier waarop ‘n mag geskep word wat nie gemanipuleer kan word nie. So ‘n sentrum van geloof en beginsel moet eerstens wees rondom ons Witmanskap. Ons is Witmense, en ons word onderskei van ander rasse. Elke volk het ‘n rassegrondslag. Diep onder is die blanke volke ondanks al hulle verskille in verskillende gebiede van die wêreld een in hulle algemene rasse-afkoms.

In die tweede plek, ons godsdiens. In die derde plek ons vaderland. In die vierde plek ons Afrikanerskap. En dan die sedelike waardes, die verbintenis tot waarheid en eerbaarheid, Waardeur jy in die wêreld agting en respek kan geniet. Dit is die dinge waarop ons kan verenig.

“In die huidige situasie in Suid-Afrika is daar twee groepe mense wat hulleself feitlik aanwys om saam te staan. Die een is die mense wat nie deelgeneem het aan die verkiesings van 1994 en 1995 nie. Daarnaas is die ontnugterdes, mense wat selfs in die Nasionale Party is, en wat totaal ontgogel is oor die dinge wat aan hulle vertel is en waaraan hulle geglo het, maar waarvan niks gekom het nie. Hierdie twee groepe mense lê klaar die grondslag vir ‘n eendragtigheid.

“Uit daardie saamwees kan daar ‘n samegroepering en ‘n verdigting van eendragtigheid kom. Wanneer dit bestaan, kan geleenthede geskep en benut word waarby daar in gemeenskaplike aksies gegaan word wat weer tot groter hegtheid prikkel. Vanuit so ‘n versameling moet byvoorbeeld gesamentlike feesdae van die Afrikaners gereël word.”

As mens hierdie boodskap lees en kyk wat wel in die blanke politiek gebeur, weet ons dat samewerking nog nie bereik kan word nie. Die VF+, en ‘n paar ander blanke groepe, dring aan om die blanke kieser sover te kry om aan die ANC se verkiesing deel te neem. Hulle het self sover links beweeg dat hulle nou swart lede werf. Hulle doen dit met beloftes van groter getalle teen die ANC in die parlement. Hulle het ‘n groot groep Blankes so ver van ons blanke politiek verskuif dat jy met baie moeite dit steeds nie regkry om die VF+ ondersteuners wys te maak dat Blankes wat aan die verkiesing deelneem, eintlik in die planne van die ANC-SAKP speel nie. Want solank hulle aan die bestel deelneem, so kan die ANC spog dat Suid-Afrika ‘n reënboognasie is en sê: ‘kyk al die Blankes wat aan ons verkiesings deelneem en hulle aan ons onderwerp’.

Dié mense moet weer hul geskiedenis gaan lees en kyk hoe hulle deur die NP en later die VF van genl. Viljoen verkul is. Selfs in so ‘n mate dat KP-lede wat beloof het om nie aan die eerste ANC-verkiesing deel te neem, by die VF+ ingeskakel het. Nou beteken hulle bitter min vir die Afrikanervolk. Ek doen weer ‘n beroep op kiesers om nie deel te neem aan die komende verkiesing nie.