Redakteur Die Afrilaner 07 Oktober 2023
ie wêreld is voorwaar erg deurmekaar, en die vure brand al nader.
Nie net die letterlike vure wat Suid-Afrika tans tref nie. Waarskynlik is dit een van die swartste jare in ‘n lang tyd betreffende veldbrande. Geweldige brande kom regoor die land voor, en steeds meer getuienis word ingewin dat dit moedswillige brandstigting is. Die reënseisoen het nog nie in die somerreënvalgebiede begin nie, dus is wydverspreide weerlig as moontlike oorsaak van brande, redelik onwaarskynlik. Eskom is vir baie dinge verantwoordelik, en af en toe ontplof een van hulle transformators of vind daar ‘n kortsluiting met die drade plaas wat ‘n vonk veroorsaak, maar dit kan nie verantwoordelik wees vir alle brande regoor die land nie.
Groot dele van die Vrystaat het probleme met veldbrande. Hele distrikte is letterlik pikswart gelaat nadat dit afgebrand is. So ook in die Noord-Kaap, Natal, die hele ou Transvaal: weste, ooste en noorde. Naby Warmbad in die Mabalingwe-natuurreservaat het meer as 50 luukse huise totaal afgebrand, en by die Zwart-kloof-reservaat nie ver daarvandaan nie is ook groot huise vernietig. Interessant genoeg wil dit voorkom of die brande juis op naweke gebeur. Selfs die Voortrekkermonument se terrein het gebrand – ook op ‘n naweek, en is beskryf as die grootste brand wat die afgelope nege jaar daar uitgebreek het.
In die Noord-Kaap het ‘n verwoestende brand die militêre basis, Lohatla, grootliks vernietig, ses mense dood gelaat en weermagtoerusting onherstelbaar uitgebrand, want die weermag het nie behoorlike brandbane gehad nie. In al hoe meer gevalle ontstaan die brande op padreserwes van die staat of ander staatseiendom omdat hulle nie die wetlike verpligtinge nakom nie. Groot siviele eise staar die staat in die gesig. Gaan hulle dit kan betaal?
In sekere streke, waar die plaaswagte en landelike veiligheidsinstellings al ver gevorder het met die installering van kameras om misdaad te voorkom en misdadigers vinniger op te spoor, het video materiaal al mense en voertuie vasgevang waar hulle velde aan die brand steek. Gaan die polisie iets daaraan doen? Ons sal dit met ‘n valkoog dophou.
Nes die oorlog tussen Rusland en Oekraïne al vervelig word en nie meer veel sensasionele opwinding oplewer nie, kom Hamas tot die sensasiebelaaide media se redding, en vuur talle missiele af op Israel, presies 50 jaar na die Jom Kippoer-oorlog in Israel. Israel se intelligensiedienste sit met bloedrooi gesigte omdat hulle geen idee gehad het van Hamas se planne nie – planne wat oor ‘n lang tyd en tot in die fynste besonderhede beplan is, en anderkant die muur weet Israel niks daarvan af nie. Israel het nou oorlog verklaar.
Wat gaan dit beteken? Hamas het die ondersteuning van Israel se groot vyande, Iran. Amerika en Brittanje skaar hulle aan Israel se kant, terwyl die “supermoondheid”, Suid-Afrika, onmiddellik steun toesê aan Hamas, want terroriste ondersteun mekaar altyd. Suid-Afrika is redelik bitsig met sy kommentaar en skel Israel uit as ‘n nuwe apartheidstaat wat diskrimineer teen die Palestyne.
Die tafel skyn gedek te word vir ‘n Slag van Armageddon. Intussen is daar ‘n ander vuur wat al warmer word, en dit is die vuur van Covid-19-inentings. Steeds meer hofsake dreig wêreldwyd oor die dikwels gedwonge inentings, en wat nou blyk geweldige gesondheidsprobleme veroorsaak. In Suid-Afrika is al twee sake wat hof toe gaan daaroor: Mnr. Desmond Milligan het ‘n eis van R31 miljoen ingedien teen die departement van gesondheid en Pfizer. Hy het op 20 Julie 2021 die Pfizer-entstof gekry, en net daarna verskillende vreemde simptome begin ervaar, en is dae daarna ‘n seldsame inflammasie in sy rugmurg gevind, hy is tot ‘n rolstoel gekluister en is ses maande later medies ongeskik verklaar en het sy werk verloor. ‘n Baie dapper neurochirurg, dr. HJ Edeling, het bevestig dat Milligan se toestand deur dié inenting veroorsaak is.
‘n Ander geval is dié van Amarisca Oguz, wat ook die departement dagvaar, en haar werkgewer, Dischem, wat haar gedwing het om die entstof te neem. ‘n Oud-verpleegster, die 43-jarige Soretha Oosthuizen, eis R7 miljoen van die departement van gesondheid en ook van Dischem, aangesien sy aanvanklik verlam in die onderlyf was. Nog gevalle begin die lig sien. Elders in die wêreld gebeur dieselfde, en regerings gaan dalk voor groter uitdagings geplaas word as wat hulle sou wou hanteer. Eise van dié aard kan geweldig raak. As die eerste eis slaag, sal dit die begin wees van die val van die dominostene, en kan dit regerings finansieel uitroei.
So ‘n situasie kan natuurlik groot probleme skep, maar ook nuwe uitdagings bied, want regerings kan val.
Om hierdie eise te verdoesel, het die Nobelpryskomitee besluit om die Nobelprys vir medisyne toegeken aan Dr. Katalin Kariko en dr. Dres Weissman van die Universiteit van Pennsilvanië vir hulle werk aan die mRNA-tegnologie waaruit die Covid-19-entstowwe ontwikkel is.
Al hierdie gebeure dui daarop dat die wêreld al hoe meer deurmekaar word en ‘n plek waar professionele misdaad soos die maak van twyfelagtige entstowwe, tot die misdaad om boere se bestaan af te brand, en misdaad soos korrupsie in wese beloon word, deur misdadigers en skuldiges te laat wegkom.
Maar dit word voorgehou as die toppunt van demokrasie, waar elkeen kan doen wat hy wil, solank hy net die regs of blank wil wees nie. Wanneer gaan bevolkings begin besef dat hulle aan die neus gelei word en dat hulle net goed genoeg is om een maal in vier of vyf jaar ‘n dom kruisie te trek, om daarna net weer aan hulle lot oorgelaat gaan word?
As dié vuurtjie vlam vat, gaan daar geen keer wees nie.