HNP-leier by kongres 2023

Die volk moet aan sy eie alternatiewe werk. Begin deur te bid, glo in jou saak en doen wat jy kan doen.

Dit was die boodskap van die leier van die HNP, mnr. Fritz van Graan, aan die HNP se 54ste jaarkongres wat in Pretoria plaasgevind het. Mnr. Van Graan is tydens dié kongres onbestrede tot leier herkies, terwyl mev. Lulu Steenkamp tot onderleier verkies is.

Mnr. Van Graan het die vraag gevra: “Suid-Afrika, waar gaan jy heen? Is dit op ‘n dwaalweg met die huidige politieke bestel wat afstuur op ‘n ekonomiese ramp, hongersnood, onderlinge geweld en chaos? Alternatiewelik moet die volk onttrek uit die bestel, bou aan ons eie, wat ons weet wat reg is en uiteindelik ‘n mag is wat onoorwinlik is. In sy leierskapstoespraak het mnr. Van Graan aandag gegee aan die algemene politieke gebeure in die land, asook die finansiële toestand, en die volledige toespraak word hier weergegee:

“Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys

“Die omstrede Bela-wet wat poog om die mag van ouerbeheerliggame weg te neem, is tans baie aktueel. Sedert 1994 het beheerliggame die toelating, taalbeleid en kapasiteit van openbare skole bepaal. Dit het ook die kultuur waarin die skool funksioneer en personeelaanstellings en/of goedkeuring ingesluit. Tans is daar slegs 1 200 Afrikaanstalige skole, wat volgens Artikel 29.2 funksioneer, uit die meer as 22 600 totale aantal skole in die land. Die ANC het totaal misluk om genoeg nuwe skole te bou en daar is selfs skole gesluit, onder andere a.g.v. swak instandhouding, veral op die platteland.

“Hofsake sal beslis volg op hierdie Wysigingswetsontwerp, omdat die regte prosesse nie gevolg word nie, want alle besware word nie in ag geneem nie, asook die sogenaamde Grondwet se vereiste van die regte van minderhede.

“Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het dit duidelik gestel dat die Departement enige hofgeding sal teenstaan. Met die oorgangsregering in 1994 is daar samesprekings gehou t.o.v. die totstandkoming van openbare skole en het die ANC sekere toegewings gemaak deur ‘n tipe sonsondergang-klousule te aanvaar. Volgens hulle kan dit nie so voortgaan nie en alle skole moet staatskole word, want hulle kan nie toelaat dat ouerbeheerliggame die ANC voorsê in die bestuur van die land nie.

“Die gevolg sal wees dat Afrikaans uit die skole sal verdwyn en alle skole Engels as voertaal sal gebruik, sodat die kwaliteit van onderwys nog verder sal daal. Nog ‘n groot probleem is dat skole in goed ontwikkelde gebiede oorstroom sal word vanuit swakker agtergeblewe gebiede en die dat standaarde nog verder sal daal, a.g.v. verpligte toename in getalle.

“Hopelik kan van die hofsake dié wet stuit.

Ekonomie en finansies

“Dit is maar ‘n baie donker prentjie wat tans geskets word. “Die ekonomie van die sestiger- en sewentigerjare was die beste wat Suid-Afrika nog beleef het. Die waarde van ons geldeenheid was baie sterk en een rand was meer as twee dollar werd. Die goudprys was aanvanklik vasgestel en het eers in die laat sewentigs en tagtigs wisselende waarde teenoor die dollar gekry.

“Gedurende die tagtigerjare het die rand baie waarde begin verloor teenoor die wêreldgeldeenhede a.g.v. wanbestuur van die latere NP-regering. Tydens die onderhandelinge van die NP- en ANCfaksies het die buiteland egter gesorg dat die geldwaardes stabiel gebly het op die reeds laer vlakke, om daardeur nie negatiewe invloed t.o.v. die onderhandelinge te veroorsaak nie.

“Nadat die ANC die regering oorgeneem het, begin die geldwaardes stadig daal en later, ná 2000 met Mbeki aan die stuur as president, begin die rand vinnig tuimel en die goudprys styg al vinniger. Dit het wel uitvoere bevoordeel, maar a.g.v. arbeids- en eiendomsonsekerhede was ekonomiese ontwikkeling baie traag en dit het dus nie veel bygedra tot groei nie.

“Met Zuma as president het kaderontplooiing sterk na vore gekom, met gepaardgaande korrupsie, omkopery en verval van wet en orde. Dit het die semi-staatsinstellings soos Eskom, Telkom, Transnet, SAL, Denel en vele ander ernstig in skuld gedompel, asook die Suid-Afrikaanse geld- en eiendomswaardes laat tuimel.

“Daarna neem Ramaphosa in 2018 oor nadat Zuma uitgeboender is en die skyn word gewek dat dit beter sal gaan, maar binne 2 tot 3 jaar verval die ekonomie erg en nywerhede gaan tot niet, met nog groter kaderontplooiing. Dit dring vanaf die nasionale regering en provinsiale regering tot in die stadsrade deur, sodat byna almal geldprobleme het en baie insolvent is.

“Dit bring Suid-Afrika by die punt waar meeste van die staatsondernemings (SOE’s) groot bedrae geld benodig wat deur die regering geborg word, terwyl die tesourie ook nie geld het nie. Die skuld van die staat styg vanaf 0,6 triljoen rand in 2012 tot 3 triljoen in 2020 en tans na byna 5 triljoen rand. Die gelde word geleen d.m.v. staatseffekte wat verkry word deur buitelandse beleggings en plaaslike banklenings, Hierdie instansies is al minder gewillig om te help met die staatskuld.

“Die koers van die staatseffekte styg tans byna daagliks en is tans tipies 9.5% vir die langtermynlenings tot meer as 12% vir ander. Die rede is dat die risiko al groter word om vir die Suid-Afrikaanse regering geld te leen. Die gevolg is dat die tesourie skaars staatsdienssalarisse en ander staatsuitgawes kan betaal.

“Waarheen Suid-Afrika?

Om ‘n finansiële ineenstorting te vermy, is daar 3 moontlikhede: om BTW te verhoog, of om algemene belasting te verhoog (wat albei ongewens is voor ‘n naderende verkiesing), of derdens, om terug te sny op ontwikkelingsprogramme, wat groei ernstig gaan knou. Ekonome meen dat, om hierdie fiskale staatskuld wat reeds 73% van die bruto nasionale produk van die land uitmaak te delg, 10 tot 20 jaar gaan neem as dit goed bestuur word. Sou hierdie skuld aan die belastingbetalers verdiskonteer kon word, beteken dit dat elke persoon R80 000 aan die staat sou moes skenk om die skuld te vereffen.

“Dit lyk tans na ‘n doodloopstraat, maar daar is die ligpunt dat dit met ‘n eerlike en verantwoordelike regering kan verbeter.

Algemene verkiesing 2024

“Die algemene verkiesing vind oor minder as ‘n jaar plaas. Dit is die sewendde sogenaamde ‘demokratiese’ verkiesing waarin almal volgens die grondwet mag stem. In 1996 is hierdie finale grondwet saamgestel, waarvolgens die sogenaamde ‘demokraties verkose’ regering gevorm is om te regeer.

“Telkens het die ANC met ‘n volstrekte meerderheid gewen, waarskynlik a.g.v. onkundige kiesers wat nie veel van die Westerse demokratiese stelsels weet nie. Die land het al dieper in ellende verval op politieke, ekonomiese en maatskaplike terreine tot waar dit vandag rommelstatus in die wêreld se oë het.

“Die Blankes wat deelgeneem het aan die verkiesings is hoofsaaklik deur die Vryheidsfront, wat later die VF Plus geword het, mislei deur beloftes dat hulle seggenskap in die regering sou hê. Dit was die afgelope byna 30 jaar tot geen nut vir die blanke Christelike beskawing in die land nie. Alhoewel daar in die parlement soms samesprekings was oor sake wat die Blankes raak, soos eiendomsreg en Afrikaans as erkende taal, het dit niks opgelewer nie en word die Afrikaner-Boerevolk se toekoms by die dag slegter in Suid-Afrika.

“Daar word tans weer ‘n veldtog gevoer dat almal moet registreer en stem om dan so die korrupte ANC uit die kussings te lig. Volgens die opposisiepartye wat in koalisies wil saamwerk, sal die wat nie stem nie, sogenaamd die ANC bevoordeel om die regerende party te bly. Twee jaar gelede, met die plaaslike verkiesings, het van die nuusmedia ‘n veldtog gevoer dat nie-stemmers die ANC benadeel, maar nou doen hulle die teenoorgestelde onder leiding van die DA en ander liberale groepe. Selfs die VF Plus het na links beweeg en akkommodeer Kleurlinge, Swartes, Moslems en alle ander groepe, net om steun te wen. Dit word net al meer ‘n chaotiese stelsel en nuttelose parlement, omdat dit slegs oor wen gaan en nie oor beginsels en orde in ‘n ekonomies gesonde land wat veilig is om in te werk en woon nie en waar ook ‘n goeie toekoms vir die nageslag is nie.

“Die grootste dryfkrag om te stem is die klug om dan d.m.v. koalisies die ANC te oorwin, maar in Afrika werk dit anders. Zimbabwe is ‘n goeie voorbeeld waar Zanu-PF al amper 50 jaar regeer en telkens wen a.g.v. dreigemente, geweld en ander metodes om die opposisie te benadeel. Verder word skenkings (‘grants’) misbruik om die bevolking se lojaliteit te behou. Bowendien word daar geen melding gemaak of en wanneer dié ‘grants’ gaan eindig nie.”

Mnr. Van Graan se slotsom is dat die feite baie duidelik uitwys dat Afrika nie demokrasie verstaan nie en nog minder sal koalisies hier werk. “Om betroubare koalisievennote te verkry, moet die partye se kultuur baie ooreenstem. Reg en geregtigheid moet vir almal dieselfde beteken en hulle moet dieselfde lewensbeskouing onderskryf, sodat daar onderlinge vertroue is. Dan eers kan daar eenstemmigheid ten opsigte van politieke, ekonomiese, maatskaplike en ander strydvrae wees.”

Mnr. van Graan se toespraak kan ook op die HNP se YouTube-kanaal gekyk word by die volgende Skakel: https://youtu.be/v4hefBv1Auk