Redakateur Die Afrikaner 3 November 2023
Met die valse eenheidsdryf rondom sport wat nou op ons afgeforseer word, is dit dalk nodig om net weer ‘n bestekopname te maak van wat sport die land gekos het, die land steeds kos, en wat dit ook die belastingbetaler en die verbruiker uit die sak jaag.
Toe die HNP in 1969 gewaarsku het dat rasgemengde sport gaan lei tot ‘n rasgemengde regering, en daarvandaan uiteindelik tot swart oorheersing, is dié party uitgemaak vir doemprofete. “Die Nasionale Party sal nooit so iets toelaat nie,” was die argument. En toe? Toe die “Maori of twee” eers in die land gekom het ter wille van rugby, was die dun ent van die wig in die deur en was daar geen omdraaikans meer tot waar ons vandag sit.
John Vorster se eerste oënskynlike klein toegewing ter wille van sport, was die begin van ‘n klein sneeuballetjie wal al hoe groter geword het totdat dit alle waardes en beginsels vernietig het. Die eerste stap van politieke segregasie, was die totstandkoming van die Driekamerparlement, waar die Blankes al die mag moes begin deel met die Kleurlinge en Indiërs. Swartes was nie daar verteenwoordig nie, want hulle het hul eie tuislande gehad.
Nadat FW de Klerk die 1989-verkiesing veilig in sy sak gehad het (onthou u: 6 September, die dag van dr. Verwoerd se moord…?) het hy vyf maande later die terroriste van die ANC vrygelaat, die ANC ontban en ook die SA Kommuniste Party toegelaat om sy verderflike ideologie in die openbaar te verkondig sonder vervolging. Dit het geweldige weersin en teenkanting onder die blanke bevolking, en in die daaropvolgende reeks tussenverkiesings kry die NP telkens ‘n mosie van wantroue van die kiesers, wat hom verleet.
Hy roep ‘n blitsreferendum uit, en speel weer eens die sportkaart. Suid-Afrika se krieketspelers het internasionaal meegeding, en op die vooraand van die referendum het De Klerk ‘n telefoniese gesprek met die destydse kaptein, Kepler Wessels, en daar word gedreig dat Suid-Afrika in die sportwoestyn sal land as die kiesers nie “ja” stem nie. En toe doen hulle, en FW gaan voort om die land aan die terroriste te oorhandig – van die gemengde regering in 1983 tot ‘n swart regering in 1994, en dit ter wille van sport.
Die sporttoneel word oorheers deur die ANC-bewindhebbers, wat sportkwotas afdwing in elke denkbare sportsoort, anders kan hulle nie meeding nie en word fondse gesny. Die sportkwotas is in wese niks anders nie as die gehate Black Economic Empowerment (BEE) wat oral in die werksplekke afgedwing word, en waarvolgens maatskappye beheer aan Swartes moet oorhandig. Met semantiese bedrog word die term BEE nie in die sportarena ingedra nie, terwyl daar geen verskil is nie.
Tot sover die politieke implikasies van sport: Dit het die blanke regering aanvanklik in ‘n magsdelingposisie met die Kleurlinge en Indiërs geplaas, dit het die regverdig tuislandbeleid, waar elke volk oor homself sou regeer en waar hy sy politieke regte kon uitoefen en sy eie regerings kon kies, vernietig, en uiteindelik is die mag oorgedra aan swart magbeluste mense wat hulle rassistiese stempel oral wil afdwing.
Maar wat van die ekonomie?
Daar word nou groot gewag gemaak van die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning in Frankryk. Wat is egter die prys daarvan?
Aangesien rugby ‘n beroepsport is, moet die spelers betaal word. Deur wie? Groot borgskappe word onderhandel om stadions in stand te hou en om die spelers te kan vergoed, en nogal nie teen geringe salarisse nie! Tipiese borge is banke, versekeringsmaatskappye of kleinhandelgroepe. Daarom is bankkostes so hoog, want die bank gaan nie die borgskap self betaal nie – sy kliënte gaan: daarom is sekere kleinhandelsprodukte buitensporig duur, want die kettingwinkels betaal nie die borgskap uit hulle wins nie, maar verhaal dit by die verbruiker.
Die amptelike beeldpoetser van die land (dis omtrent al wat hy goed doen behalwe om die land in die grond in te bestuur), Cyril Ramaphosa, klim op die vliegtuig na Parys, want hy wil “die Bokke gaan ondersteun”. En toe die beker wel gewen word, hou hy hom omhoog asof hy die wen-drie gedruk het!
Maar Cyril is nie alleen na Parys nie: saam met hom was Bheki Cele en Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC. Soos ons Ramaphosa en Cele ken, gaan hulle nie alleen nie: elkeen het ten minste honderd lyfwagte wat hulle saamneem, saam met ander amptenare, skoen- en beeldpoetsers en kokke, sodat hulle eerder pap kan eet as paddaboudjies. Hierdie hele entourage pas natuurlik nie in een enkele vliegtuig nie, dus was daar waarskynlik meerdere vlugte. Wat het hierdie sirkusagtige uittog die belastingbetaler gekos? Dis tog ondenkbaar dat Ramaphosa en Cele hierdie duur rit self sou betaal het, of dat die ANC, wat nie eens sy personeel se salarisse kan betaal nie, die koste sou dra. Ons hoop dat een van die politieke partye wat gewoonlik so kwistig vrae in die parlement vra, hierdie vraag gaan vra oor hoeveel Cyril en kie se rit na Parys die belastingbetaler gekos het.
Dan kom hulle terug, en skielik is daar weer beurtkrag, dus kan die sportbehepte publiek nie meer kwaad word omdat hulle nie die finaal kon sien nie – almal kon. Dadelik is die ekonomie weer terug op kruppel-stand, en Ramaphosa “spreek die nasie toe”, en vertel hoe goed dit gaan omdat die Springbokke gewen het, en deel sommer ‘n ekstra vakansiedag uit, so al asof die ekonomie nog ‘n vakansiedag kan bekostig. Maar die vakansiedag is nou 15 Desember: die dag voor Geloftedag, ooglopend sodat die sportbehepte publiek gaan fees vier oor die Springbokke, en die aandag afgelei kan word van Geloftedag. Hierdie is waarskynlik goed bereken om die Geloftedagvieringe te probeer benadeel.
Iewers gaan ons die negatiewe som van die sport moet begin verreken en ook meer uit ‘n beginseloogpunt daarna kyk, eerder as om mee te doen met die beheptheid van rasgemengde sport, soos die Voortrekkermonument hom helaas ook laat meesleep het deur die Monument in groen ligte te hul omdat Afriforum vir hulle die groen filters voor die ligte geborg het.
In die vorige uitgawe het die voorbladberig gegaan oor ‘n eie volksekonomie wat gevestig moet word. Dalk is ‘n sinvolle begin die weerhouding van gelde aan mense wat hierdie sportgod ook met hulle lede, klante en kliënte se geld ondersteun!