“Die HNP doen ‘n beroep op elke organisasie of instansie wat Afrikaners mag verteenwoordig, om res-pek te toon teenoor diegene wat Geloftedag eerbiedig en uitleef, en om daarom hulleself van Mashatile se funksie van 16 Desember te distansieer en te verskoon.”
Dit is die oproep van die leier van die HNP, mnr. Fritz van Graan, in ‘n mediaverklaring aan alle Afrikaners wat hulle gebonde hou aan Geloftedag van 16 Desember.
Die aanloop tot dié oproep, is dat die ANC se adjunk-president, uit die bloute aangekondig het dat ‘n nasionale dialoog, waaroor al sedert die verkiesing bespiegel word, op 16 Desember gaan plaasvind.
Skynbaar het hy met niemand oorleg gepleeg om die datum vas te stel nie, en alle voornemende deelnemers het in die media daarvan kennis geneem.
Mnr. Van Graan sê in sy verklaring dat die ANC dertig jaar die kans gehad het om ‘n sogenaamde Nasionale Dialoog aan te bied. “Hy het dit nie gedoen nie, want hy was magsdronk en nie bereid om na enigiemand anders te luister nie.
“Die Boere-Afrikanervolksraad se afvaardiging etlike jare gelede na die destydse nog adjunk-president Cyril Ramaphosa, het op niks uitgeloop, om dieselfde rede,” sê mnr. Van Graan.
“Nou het die ANC nie meer die meerderheid in die parlement nie, en is nou skielik bereid om metander te gesels. Sy oneerlikheid met die regeringsvorming, waar hy die kabinet vergroot het om homself meer as sy geregtigde 40 persent verteenwoordiging op kabinetsvlak te gee, maak ‘n klug van enige mooipraatjies van sy kant af.”
Mnr. Van Graan beskou Mashatile se aankondiging van die dialoog op 16 Desember as ‘n voortsetting van die ANC se politieke en morele oneerlikheid. “Waar verskeie instansies, waaronder ook sekere Afrikaanse instansies, aangedui het dat hulle so ‘n dialoog sal bywoon, is hul deur Mashatile in die duister gehou oor wanneer dit plaasvind. Hulle moes in die media daarvan uitvind.
“16 Desember is vir ‘n groot deel van die Afrikaners steeds Geloftedag, wat soos ‘n dankdag en ‘n Sabbat teenoor die God van die Bybel gevier en herdenk moet word. Daarteenoor vind baie van die ANC se interne sake ook op dié dag plaas. “As instansies, waaronder Afrikaanse of Afrikanerinstansies mag tel, behoefte het aan enige vorm van dialoog met die onbetroubare ANC, is hulle seker geregtig daarop. Trou aan die gelofte van die voorouers, is hulle egter nie veronderstel om aan Mashatile se eensydige vasstelling van so ‘n gesprek op Geloftedag gehoor te gee nie. Mashatile moes eerder vooraf ‘n nasionale dialoog gehou het om ‘n datum wat almal pas te bepaal.
“Die HNP doen daarom ‘n beroep op elke organisasie of instansie wat Afrikaners mag verteenwoordig, om respek te toon teenoor diegene wat Geloftedag eerbiedig en uitleef, en om daarom hulleself van Mashatile se funksie van 16 Desember te distansieer en te verskoon,” lui mnr. Van Graan se verklaring.
Uit Die Afrikaner van 8 November 2024