Ramaphosa se sosialistiese plan.

Die ekonomiese plan wat op 21 April deur die ANC-staatspresident aangekondig is, het enorme gebreke. Die opvallende feit is dat die hele strategie in verband met die ramptoestand wat deur die korona-virus veroorsaak is, op ’n tipiese sosialistiese wyse opgestel word. Die ANC-regime sien dit eerder as ’n geleentheid om sy sosialistiese beleid dieper in te grawe, al dreig ekonomiese rampspoed reeds aan alle kante.

Dit is belangrik om te let op die president se woordgebruik: Aan die een kant maatreëls wat met die banke ooreengekom is; verligting van belasting, en so meer; maar veral dan die feit dat die regering iets soos ’n nuwe ekonomiese struktuur vir die toekoms beplan. Ons het vae uitdrukkings gehoor soos: a new economy, accelerated structural reform, a new social compact, en radical economic transformation. Dit is niks minder nie as ou sosialistiese en kommunistiese slagkrete.

Die ANC-leier was so dapper om ’n hulppakket van R500 miljard aan te kondig, as antwoord op die noodtoestand met betrekking tot die pandemie, gesondheidsorg en die uitwerking daarvan op die ekonomie. Tog sal armoede heel eerste manifesteer as ’n behoefte aan voedsel; en in hierdie opsig is die landbou meer as net van sekondêre belang: dit is een van die belangrikste sleutels om die noodtoestand daadwerklik te bestry. Maar die woord landbou is nooit gehoor nie. Die regime het hierdie nasionale bate doelbewus buite rekening gelaat.

Wat kon die regering gedoen het? Hy kon in die eerste plek indringende gesprekke gevoer het met die verskillende landbouorganisasies in die land; hy kon onmiddellik, soos in die geval van die myne, spesiale toegewings ingestel het, sodat die landbou toegelaat kon word om sy werk onverhinderd te doen; die subsidiëring van die logistieke proses kon aandag gekry het, so ook die vervoer van produkte na die mark en die verspreiding van landbouprodukte. Daarby kon spesiale voordele ingesluit word om boere in staat te stel om hul arbeid te betaal en daar kon brandstofvoordele ingestel word met die oog op die volgende seisoen se oes.

Om hierdie plan nie te ingewikkeld te maak nie, kon die regering gewoon ’n reuse subsidie beskikbaar gemaak het aan alle landbouers, sonder diskriminasie van enige aard oor die tipe produk of bedrywighede van die landbouer.

Maar dit sou verg dat die ANC-regime die strydbyl met die landbouers moes begrawe; en dit is natuurlik waar die knoop lê.

Kosvoorsiening en hongersnood is die krisis, maar voedselpryse is besig om die hoogte in te skiet. ‘n Mens sou verwag dat ‘n bekende maatreël soos prysbeheer op kritieke items ingestel sou word. Ook dit sou misbruike bestry het.

Die vraag is of daar ‘n verband is tussen die doelbewuste ignorering van die landbou, die verhoging van welsynstoelae aan duisende afhanklikes daarvan (waarvan baie in elk geval nie werk nie) en die ontplooiing van prakties die hele weermag. En dit net om die inperkingsregulasies af te dwing? Dit lyk meer na mobilisasie om grootskaalse teenstand te onderdruk.

Dit alles skep ‘n ideale toestand en verskoning vir die deurvoering van beleid soos nasionalisering  (onteiening) van grond (plase met voedsel) en ook ander eiendom. As die krisis groter word, is die klimaat geskep en die basis gelê vir goedkeuring deur die parlement van ‘n noodtoestand.

Om nou R500 miljard te leen waarvan ‘n groot deel net opgeëet gaan word en geen ordentlike plan bestaan om die res te investeer nie, is om ‘n krisis op die korttermyn te besweer en ‘n erger langtermyn krisis te skep, want skuld dra rente en die rente plus die kapitaal moet een of ander tyd terugbetaal word. Waarmee dan?

 

Louis van der Schyff

Hoofsekretaris

 

22 April 2020