Bespreking van die HNP se PROGRAM VAN BEGINSELS – 2
Andries Breytenbach
Die tweede uitgawe van die Program van Beginsels begin met die volgende woordverklaring:
“Die begrip Afrikaner, waar dit in hierdie dokument voorkom, sluit ook die begrip Boer in en andersom.”
In 1969, toe die HNP gestig is, was die benaming ’Afrikaner’ algemeen gebruik om na ons volk te verwys. Dit was onomstrede en niemand het getwyfel oor wie of wat ʼn Afrikaner en die Afrikanerdom is nie. Daar is sonder meer aanvaar dat ons die nasate of erfopvolgers is van diegene wat in die tydperk van die Groot Trek algemeen bekend was as die Voortrekkers. Die benamings ‘Afrikaners’ en ‘Boere’ vir ons volk was ook toe reeds in gebruik. Nadat die Voortrekkers gevestig geraak het en nuwe geslagte in die republieke wat hulle geskep het, gebore is, het dié naam as volksbenaming minder gebruiklik geraak en het die name ‘Afrikaners’ en ‘Boere’ voortgeleef — laasgenoemde waarskynlik veral omdat die volk hoofsaaklik boerdery as beroep en lewenswyse beoefen het. Dié benaming het veral wêreldwyd bekend geword vanweë die vryheidsoorloë wat deur Brittanje op ons afgedwing is Veral in Europa was ons volk bekend as die Boerevolk. Dit was ʼn erenaam vir die Europeërs en vir ons; vir die Engelse was dit ʼn skeldnaam. Onder ons eie mense het ‘Afrikaner’ as volksnaam ook bly voortleef. Ná die Tweede Vryheidsoorlog en unifikasie het die benaming ‘Afrikaner’ algemeen gebruiklik geraak om na ons volk te verwys. Dit was ʼn versamelnaam vir die burgers van die voormalige Boererepublieke en die Afrikaners van die Kaap en Natal, en dit het ons van die Engelssprekendes saam met wie ons in een staatsbestel gedompel is, onderskei. Van tyd tot tyd het ons steeds na onsself as ‘Boere’ verwys om ons afkoms en sentiment met die heldedom wat hulle tydens die Tweede Vryheidsoorlog onderskei het, weer te gee. (Natuurlik het dit enige assosiasie met die Boere-joiners en –hendsoppers uitgesluit!).
Onder die regerings van genl. Hertzog (voor sy samesmelting met die Engelsgesinde genl. Smuts), en veral sedert 1948, toe die Nasionale Party aan bewind gekom en ons volk se nasionale strewe al sterker praktiese beslag gekry het, het die eenheidsgevoel onder die Afrikaners toegeneem.Met Republiekwording onder dr. Verwoerd het dit ʼn hoogtepunt bereik.
Ná die sluipmoord op dr. Verwoerd het daar onder sy opvolger, mnr. John Vorster, ʼn ommekeer gekom toe dié die tradisionele beleid van die Nasionale Party begin versaak het. Namate sy opvolgers op sy politieke koers voortgestorm het, het die verdeeldheid in Afrikanergeledere toegeneem en met FW de Klerk se verraad het dit só ʼn laagtepunt bereik dat ʼn deel van die volk hulle weer op die ‘Boere’-naam beroep het om hulle van daardie volksdeel wat De Klerk ondersteun en gevolg het, te onderskei. (Dié onderskeid het ook uitdrukking gevind in die benaming ‘Afrikaanses’ vir die liberale volksdeel om hulle te identifiseer en te onderskei van die behoudende of nasionale Afrikaners). Ten einde dié sentimente te akkommodeer, het die Hoofbestuur wat die Program van Beginsels hersien en meer vaartbelyn en toepaslik vir die huidige omstandighede gemaak het, die bostaande Woordverklaring ingevoeg.
Die eerste artikel van die Program van Beginsels lui:
“Die naam van die Party is Die Herstigte Nasionale Party, afgekort as HNP.”
ʼn Naam is nie sommer net ʼn naam nie; dit het betekenis en verteenwoordig selfs geskiedenis. Die HNP het tot stand gekom as ʼn reaksie teen die Nasionale Party (NP) se afwyking van die tradisionele apartheidsbeleid, toe dié party besluit het om rasgemengde sport in Suid-Afrika toe te laat. Maar dit het oor méér gegaan as sportwedstryde. Sport was ʼn simptoom van ʼn dieperliggende liberale gees wat reeds die binneweefsel van die NP binnegedring het. Terwyl dr. Albert Hertzog, die eerste leier van die HNP, nog ʼn Volksraadslid van die Nasionale Party was, het hy in ʼn toespraak op 1 Oktober 1969 die saak in sy kern raakgevat toe hy verklaar het: “Dit gaan nie oor sport nie… Dit gaan oor die liberalisering van die Nasionale Party… Die tradisionele beginsels van ons volk (moet) stuk vir stuk oorboord gegooi word. En daarom moet elkeen wat hierdie liberalisering teengaan uit die pad gestamp word.” Die redenasie agter die keuse van ʼn naam vir die nuwe party was dus dat die Nasionale Party die beginselbasis waarop dit tot op daardie tydstip gevestig was, versaak het en daarom nie meer met reg as Nasionale Party, d.w.s. as “volksfront van die Afrikanerdom”, soos dit in sy beginsels uitgedruk was, kon voortbestaan nie.Selfs al het dit die NP-naam behou. Die NP wat ons geken het, het homself in wese vernietig en moes herstig word. Die nuwe party sou daardie rol vervul en vandaar die naam Herstigte Nasionale Party.
Tydens die stigtingsvergadering is ook ander name vir die nuwe party van die vloer af voorgestel. Veral mnr. Jaap Marais het by dié geleentheid ʼn sterk motivering en pleidooi vir aanvaarding van die naam “Herstigte Nasionale Party (HNP)” gelewer. Mnr. Marais was ʼn persoon wat altyd aansluiting by die geskiedenis gevind het. Die akroniem ‘HNP’ het op sigself nog die ouer geslag wat die politieke woelinge van die dertiger- en veertigerjare geken het, se sentimente geroer, want nadat genl. Hertzog met Smuts gebreek en uit die Verenigde Party (in die volksmond sommer Smeltersparty genoem) getree het, het hy met sy volgelinge weer met dr. Malan se Gesuiwerde Nasionaliste herenig en die Herenigde Nasionale Party (HNP) gevorm. Afgesien van die sentiment met die naam, was die nuwe HNP van 1969 ʼn voortsetting van die historiese lyn wat ons volk se nasionale strewe na vryheid en volkskap sedert sy ontstaan gekenmerk het. Deur die HNP word daardie lyn tot in die hede ononderbroke deurgetrek.
In die naam ‘Herstigte Nasionale Party’ was ook ʼn beskuldiging en verwyt teen die toe bestaande Nasionale Party opgesluit: hulle was nie meer Nasionale Party in die ware sin van die woord nie; hulle het hulle karakter verloor en die naam as ʼn valse dop behou. Geen wonder dat hulle die HNP so gehaat het nie. Nogtans het die erkenning dat ons reg was, later gevolg toe hulle die ‘Nuwe Nasionale Party’ geword en uiteindelik van die toneel verdwyn het. Hóé waar en korrek het die verloop van die geskiedenis in die minder as 25 jaar wat op die stigting van die HNP gevolg het, dr. Hertzog en sy medestigters van die HNP tog nie bewys nie!
UIt Die Afrikaner van 12 Maart 2021.